Sutta Nipāta 1.4

Die boer

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige onder die mense van Magadha gewoon, in ’n brahmaanse dorpie met die naam van Ekanala, in die Dakkhinagiri-streek. Op daardie stadium (dit was saaityd) was vyfhonderd ploeë van die brahmaan Kasibharadvaja vasgemaak. Een oggend het die Deurlugtige homself beklee, sy bedelbak en kleed opgeneem en na waar die brahmaan Kasibharadvaja aan die werk was, gegaan. Dit was die tyd dat die brahmaan Kasibharadvaja voedsel uitgedeel het. Toe die Deurlugtige kom waar die uitdeel van die voedsel plaasvind, het hy eenkant gaan staan. Die brahmaan Kasibharadvaja sien die Deurlugtige waar hy vir ’n aalmoes staan, en sê:

‘Swerwer, ek ploeg en saai, en as ek geploeg en gesaai het, dan eet ek; ploeg en saai u ook, en as u geploeg en gesaai het, eet dan.’

‘Ook ek, brahmaan, ploeg en saai, en as ek geploeg en gesaai het, dan eet ek.’

‘Ons sien nie die eerbiedwaardige Gotama se juk of ploeg, sy ploegskaar of sweep of osse nie, en tog sê die eerbiedwaardige Gotama: “Ook ek, brahmaan, ploeg en saai, en as ek geploeg en gesaai het, dan eet ek.”’

Toe het die brahmaan Kasibharadvaja die Deurlugtige in ’n vers aangespreek:

‘’n Boer noem u uself, maar ons sien u die grond nie bewerk nie.
Van hoe u in die grond werk wil ons graag die verduideliking hoor.’

‘Vertroue is die saad, matigheid die reën, wysheid my juk en ploeg;
eenvoud is die disselboom, gees die leitou, aandag my ploegskaar en sweep.

In woord en daad waaksaam en matig met kos
skoffel ek met waarheid en span met kalmte uit.

Inspanning is die os wat my na die groot vrede dra.
Hy loop sonder omdraai na waar droefheid verdwyn.

Van dié soort boerdery word onsterflikheid geoes.
Wie só boer is van lyding verlos.’

Toe het die brahmaan Kasibharadvaja ’n groot brons skottel met ryspap gevul en vir die Deurlugtige aangebied:

‘Laat die deurlugtige Gotama die ryspap eet;
boer is hy en onsterflikheid oes hy.’

‘Kos verkry deur die sing van ’n heilige lied eet ek nie.
Dit, brahmaan, doen hulle wat skerp sien nie.
Die Boeddhas bedank vir kos waaroor gesing is.
Solank die leer bestaan, brahmaan, is dit hul gebruik.

Bedien met ander kos en drank
die een wat volmaaktheid bereik het, die groot wyse
wat die smette skoongemaak en wroeging verwyder het.
Dis die ploegland vir hom wat soek na verdienste.’

‘Maar aan wie, deurlugtige Gotama, sal ek dan hierdie ryspap gee?’

‘Brahmaan, in die wêreld wat gode en Mara en Brahma insluit en onder wesens wat swerwers en brahmane, gode en mense insluit, sien ek niemand deur wie die ryspap, as dit geëet sou word, behoorlik verteer sou word nie, behalwe die Volkome of ’n dissipel van die Volkome; dus, brahmaan, moet jy die ryspap óf weggooi op ’n plek waar geen gras groei nie óf in water sit waar geen lewe voorkom nie.’

Toe het die brahmaan Kasibharadvaja die ryspap in water waar geen lewe voorkom nie, gesit. In die water het die ryspap kokend gesis en dik stoom afgegee. Net soos ’n ploegskaar wat ’n hele dag lank verhit is kokend sis en dik stoom afgee as dit in water gedompel word, so het die ryspap kokend gesis en dik stoom afgegee toe dit in die water gedompel is. Daarop gaan die brahmaan Kasibharadvaja, bewend en met sy hare orent, na die Deurlugtige, val neer met sy kop by die voete van die Deurlugtige en sê:

‘Wonderlik, Gotama, wonderlik! Net soos mens regop sou sit wat omgeval het, sou oopmaak wat toegemaak is, die weg vir iemand wat verdwaal het sou aandui, of ’n olielamp in ’n donker plek sou inbring sodat die wat oë het vorms kan onderskei—so het die eerbiedwaardige Gotama op verskeie maniere die waarheid bekend gemaak. Ek neem toevlug in die deurlugtige Gotama, en in die waarheid, en in die gemeenskap van monnike. Mag ek in die teenwoordigheid van die deurlugtige Gotama die huislose lewe opneem, mag ek die monnike-lewe opneem.’

Die brahmaan Kasibharadvaja het in die teenwoordigheid van die Deurlugtige die huislose lewe, en die monnike-lewe, opgeneem. Nie lank nadat Bharadvaja die monnike-lewe opgeneem het nie, het hy self deur alleen, afgesonderd, ywerig, toegewyd en vasberade te leef, in ’n kort tyd die onoortreflike ideaal van die edel lewe in hierdie wêreld verstaan, ervaar en bereik—dit ter wille waarvan die seuns van goeie families met alle reg die huislike lewe verlaat en die huislose lewe opneem. Hy het tot die insig gekom dat hergeboorte vernietig is, dat die edel lewe volbring is, dat wat gedoen moes word, gedoen is, dat daar niks meer in hierdie lewe oorgebly het nie. Die eerbiedwaardige Bharadvaja was een van die volmaaktes.