Sutta Nipāta 1.9

Dialoog met demone

Satagira:

‘Vandag is die vyftiende, die volmaandag; die goddelike nag is hier.
Kom ons besoek Gotama, bekend as ’n volmaakte leermeester.’

Hemavata:

‘Is die gees van dié mens miskien alle lewende wesens welgesind?
Is oor aangenaam en onaangenaam sy gedagtes wel onder beheer?’

Satagira:

‘Die gees van dié mens is alle lewende wesens welgesind.
Oor aangenaam en onaangenaam is sy gedagtes onder beheer.’

Hemavata:

‘Steel hy nie miskien nie en is hy wel beheersd teenoor lewende wesens?
Bly hy werklik ver van losbandigheid en verwaarloos hy nie dalk meditasie nie?’

Satagira:

‘Hy steel nie en is beheersd teenoor alle lewende wesens.
Hy bly ver van losbandigheid en verwaarloos nie meditasie nie.’

Hemavata:

‘Vertel hy nie miskien onwaarhede nie en gebruik hy nie dalk harde woorde nie?
Praat hy werklik nie kwaad en onsin nie?’

Satagira:

‘Hy vertel nie onwaarhede nie en gebruik nie harde woorde nie.
Hy praat nie kwaad nie maar die sin van ’n denker.’

Hemavata:

‘Is hy nie miskien verslaaf aan plesier nie en is sy gees wel onverstoord?
Het hy werklik verblinding oorskry en het hy regtig helder insig in verskynsels?’

Satagira:

‘Hy is nie verslaaf aan plesier nie en sy gees is onverstoord.
Hy het alle verblinding oorskry en in verskynsels het hy die helder insig van ’n Verligte.’

Hemavata:

‘Is hy miskien toegerus met kennis en is sy lewenswyse we1 volkome suiwer?’
Is sy smette werklik vernietig en is daar regtig geen hergeboorte nie?’

Satagira:

‘Hy is inderdaad toegerus met kennis en sy lewenswyse is volkome suiwer.
Sy smette is weg en vir hom is daar geen hergeboorte nie.

Die gees van die wyse is begaafd in daad en woord.
Kom ons besoek Gotama, begaafd in ken en doen.

Kom ons besoek Gotama, die wyse met die slank en ferm lyf van ’n wildsbok,
wat mediterend in die woud weinig eet en gemak versmaai.

Na die leeu wat onverskillig vir singenot alleen leef
sal ons opgaan en vra na bevryding uit die strik van die dood.

Ons sal Gotama vra, die Verligte wat by haat en vrees verby is,
wat die wese van dinge verkondig en uitlê omdat hy self deur dit alles gedring het.’

Hemavata:

‘Waarmee saam het die wêreld ontstaan?
Waarmee hang dit innig saam?
Waaraan is dit geheg?
Waaraan ly dit?’

Die Deurlugtige:

‘Met ses het die wêreld saam ontstaan.
Mel ses hang dit innig saam.
Aan ses is dit geheg.
Aan ses ly dit.’

Hemavata:

‘Wat is daardie gehegtheid waaraan die wêreld ly?
Ons pleit, vertel van verlossing: hoe kom dit los van lyding?’

Die Deurlugtige:

‘In die wêreld is vyf hegtings van plesier
en van die gees as sesde word geleer.
Wie die begeerte daarna afsterf kom van lyding los.

Die verlossing van die wêreld is waarlik verkondig.
Ek verkondig: só word van lyding losgekom.’

Hemavata:

‘Wie steek die stormvloed, die oseaan oor
en sink nie sonder houvas en steun in die onmeetlike diepte weg nie?’

Die Deurlugtige:

‘Die gedissiplineerde mens,
wys, gekonsentreerd,
na binne gekeer, aandagtig,
steek die stormvloed oor.

Hy neem plesier nie waar nie.
breek alle bande,
vernietig begeerte en bestaan,
sink in die onmeetlike diepte nie weg nie.’

Hemavata:

‘Kyk, die denker sien diep in die fyn sin van dinge,
het niks nie en kleef nie aan genot en lewe nie.
Die groot wyse wat die goddelike weg bewandel
is in elke opsig volkome bevry.

Kyk, die volmaakte leermeester sien diep in die fyn sin van dinge,
deel kennis mee en is nie geheg aan die domein van genot nie.
Die groot wyse wat die edel weg bewandel
het volmaakte insig en weet alle dinge.

Vanmôre met sonopkoms het ons ’n nuwe dag sien breek.
Die Volverligte het ons aanskou—
die onbesoedelde anderkant die stormvloed.

Hierdie duisend geeste almal met wonderkragte en roem oorlaai
kom neem hul toevlug by u—ons meester onoortreflik.

Ons sal van dorp tot dorp en berg tot berg swerwend eer betoon
aan die hoogste Verligte en die waarheid van sy leer.’