Sutta Nipāta 2.12

Vangisa

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige in die buurt van Alavi gewoon, by die heiligdom Aggalava waar ’n senior monnik met die naam van Nigrodhakappa, die onderwyser van die eerbiedwaardige Vangisa, nie lank tevore nie heengegaan het. Die volgende gedagte het by die eerbiedwaardige Vangisa opgekom terwyl hy eensaam mediteer:

‘Het my onderwyser nibbana bereik of nie?’

In die aand staan die eerbiedwaardige Vangisa toe van sy private afsondering af op, gaan na die Deurlugtige toe, groet hom, gaan sit eenkant en vra hom:

‘Terwyl ek eensaam mediteer, het die volgende gedagte by my opgekom: het my onderwyser nibbana bereik of nie?’

Toe staan die eerbiedwaardige Vangisa van sy sitplek af op, hang sy kleed oor een skouer, bring met gevoude hand hulde aan die Deurlugtige en spreek hom met ’n vers aan:

‘Ons vra die Meester met volmaakte wysheid,
u wat onsekerheid in hierdie lewe vernietig:
By Aggalava het ’n bekende, ja beroemde monnik
met volkome kalm gees sy tyd volbring.

Aan hierdie brahmaan het u self, o Deurlugtige,
die naam Nigrodhakappa gegee.
In diepe eerbied vir u het hy geleef en na die vryheid gesoek,
sterk en ferm in die betragting van die dhamma.

Ons almal verlang om van daardie dissipel te weet, o alsiende Sakya.
Ons ore is gereed om te hoor.
U is ons leermeester, u die onoortreflike.

Sny ons twyfel af. U met die alomsluitende wysheid,
vertel ons van hom, sê of hy nibbana bereik het.
Spreek in ons midde, o alsiende Sakya met duisend oë,
soos u doen te midde van die gode.

Die verwarrende strikke van hierdie bestaan,
vervleg met onkunde en omrank deur twyfel,
verdwyn as hulle voor die Volkomene verskyn—
voor hom met die skerpste oog onder die grotes.

As niemand onsuiwerhede sou opruim nie
(soos die wind ’n swaar bank wolke),
dan sou die hele wereld in donker gehul wees,
sou die lig van selfs groot en helder geeste nie skyn nie.

Want wyse mense skep lig.
Dat u so een is, dit weet ek, o wyse.
Na u het ons gekom, u met die insig en kennis:
maak die lot van Kappa aan ons bekend in die vergaderings.

O skone, verhef u skone klank gou.
Strek u uit soos ’n swaan en roep sag met u ryk stem.
Ons luister almal aandagtig na u.

Laat die een wat geboorte en dood oorwin het, die gelouterde, die waarheid vertel.
Laat dit nie bloot die wens van gewone sterflinge vervul nie
maar die doelbewuste handeling van die Volkomene wees.

Wat u verduidelik, word aangegryp, u met die hoogste insig.
Ons groet u, bring u die hoogste hulde.
U wat weet, o opperwyse, laat ons nie in die duister nie.

U ken die waarheid van die edeles geheel en al.
U wat weet, o oppersterke, laat ons nie in die duister nie.
Soos mense, verstik in die somerhitte, smag na water
so verlang ons na u stem, o koel reën van lering.

Die lewe van afsondering waarin Kappayana sonder illusie gewandel het—
dit was tog nie verniet nie?
Het hy nibbana bereik, die bestaansdrif geheel geblus?
Hoe is hy bevry? Dit wil ons hoor.’

Die Deurlugtige:

‘Hy het begeerte na naam-en-vorm in hierdie lewe afgesny,
geboorte-en-dood volkome oorgesteek:
Kanha se stroom wat eindeloos sluimerend vloei.’

So het die Deurlugtige, meester van die vyf sintuie, gesê.

‘Om na u woorde te luister maak my gelukkig, o grootste onder die sieners.
My vra was voorwaar nie tevergeefs nie.
O brahmaan, u het my nie mislei nie.

Soos die dissipel van die Boeddha gepraat het, so het hy gehandel:
die bedrieglike doodsgod se sterk en wye net deurgesny.

Die begin van afhanklikheid het Kappiya gesien, o Deurlugtige’
Die doodsterrein ondeurdringbaar moeilik
het Kappayana oorgesteek, voorwaar.’