Sutta Nipāta 2.14

Die goeie dissipel

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige in die buurt van Savatthi gewoon, in die Jeta-plantasie in Anathapindika se park. Die leke-dissipel Dhammika het met vyf honderd ander leke na die Deurlugtige gekom, hom gegroet, eenkant gaan sit en toe die Deurlugtige met verse aangespreek:

‘Ek vra u, o Gotama met oorvloedige wysheid:
wat moet mens doen om ’n goeie dissipel te wees—
hetsy jy jou huis vir die tuislose wildernis verlaat het
of as leek nog ’n huis bewoon?

Want van die wêreld, ook van die gode,
ken u die gang en die einde.
Niemand sien die wese van dinge so raak soos u nie.
U noem hulle immers die Uitnemende, die Boeddha.

U wat alles weet en deernis het met wesens,
u laat die waarheid helder skyn.
U skuif die sluier weg, u wat alles sien.
U lig skyn glansend skoon deur heel die wêreld.

Toe die olifantkoning Eravana hoor dat u “Oorwinnaar” is
het hy in u teenwoordigheid verskyn,
u geraadpleeg en na u geluister,
en toe hy vertrek in diep geluk “uitstekend” uitgeroep.

Ook koning Vessavana Kuvera het gekom
en u oor die dhamma uitgevra.
Ook met hom, o wyse, het u gesels toe u uitgevra is,
en ook hy het na u geluister en in diep geluk vertrek.

Geeneen van die Ajivikas en Jains,
van al die sektariese filosowe wat so graag argumenteer,
kan u verbysteek in wysheid nie—
so min as ’n man wat staan een wat vinnig loop sal inhaal.

Daardie brahmane wat so graag argumenteer
(selfs die eerbiedwaardigstes onder hulle),
asook ander wat spog met hul denkbeelde—
hulle is almal aan u uitleg van dinge gebind.

Na hierdie subtiele en pragtige dhamma
wat u, o Deurlugtige, so goed verkondig
luister ons almal graag.
Ons vra u, o uitnemendste Boeddha, praat met ons daaroor.

Laat hierdie monnike en leke-dissipels
wat almal saam sit om na u te luister
soos gode na wel-gesproke woorde van Vasava,
laat hulle die dhamma hoor soos die Suiwer Een dit ken.’

‘Luister na my, o monnike!
Ek sal julle die waarheid van nougesetheid leer.
Onthou dit, julle almal.
Laat die verstandige wat die doel raaksien
die lewenskode volg wat pas by een wat die huis verlaat het.

Laat die monnik nie op die verkeerde tyd rondbeweeg nie
maar op die regte tyd dorp toe gaan vir ’n aalmoes.
Tentakels kry hom beet wat op die verkeerde tyd rondbeweeg.
Boeddhas wandel nie op die verkeerde tyd rond nie.

Vorms, klanke, smake, geure en aanrakings
bedwelm mense geheel en al.
Laat hom die begeerte na hierdie ervarings opsy sit
en op die regte tyd vir sy oggendmaal gaan.

Laat die monnik op die regte tyd ’n maal ontvang,
alleen terugkeer, afgesonderd sit,
sy aandag nie buite dwalend nie maar binne gekeer—
geïntegreer.

As hy met ’n dissipel gesels
of met ’n monnik of enigiemand anders,
laat hom die verhewe waarheid praat—
nie laster en verwyt nie.

Want sommige betwis dié taal.
Daardie mense yan geringer wysheid prys ons nie.
Hulle wat heftig twis
word aan alle kante in bande verstrik.

Laat die dissipel van die edel wysheid noulettend luister
na die waarheid wat die Welgekomene leer;
voedsel, blyplek, stoel en bed gebruik,
en water om sy kleed te was.

Maar monnik, rol van die verskynsels af
soos ’n druppel water van ’n lotusblaar—
van voedsel, blyplek, stoel en bed,
en water om jou kleed te was.

En nou sal ek praat oor die plig van ’n huisbewoner
en oor wat hy moet doen om ’n goeie dissipel te wees.
Want die monnikeplig in al sy volheid
is buite bereik van wie besit word deur besittings.

Teen geen lewende wese hetsy sterk of bewend swak
sal hy geweld gebruik nie.
Geen lewe sal hy neem en laat neem nie
en geen doodmaak deur ander goedpraat nie.

Verder sal die dissipel nêrens iets vat wat nie aan hom gegee is nie
omdat hy weet dat dit aan ’n ander behoort.
Hy sal geen diefstal laat pleeg nie, geen diefstal goedpraat nie
en elke vorm van diefstal vermy.

Die wyse sal die seksuele lewe vermy
soos ’n hoop brandende kole.
Maar as hy dit nie kan vermy nie
sal hy nie met ’n ander man se vrou oortree nie.

As hy in ’n vergadersaal of publieke plek is
sal hy aan geen enkele mens ’n leuen vertel nie,
geen leuen laat vertel nie en geen leuen goedpraat nie.
Hy sal elke vorm van onwaarheid vermy.

Omdat hy weet dat dit uitloop op waansin
sal die huisbewoner wat in hierdie waarheid vreugde vind,
bedwelmende drank nie drink nie,
dit nie laat drink nie en dit nie goedpraat nie.

Want in hul dronkenskap doen dwase bose dinge,
en ander slinger agloos agterna.
Vermy hierdie nes van ondeug,
hierdie waansin, hierdie dwaasheid, hierdie dommansplesier.

Geen lewe sal hy neem nie,
wat nie gegee word nie nie vat nie,
onwaarheid nie vertel nie,
bedelmende drank nie drink nie,
aan onkuise seks nie deelneem nie,
ontydig en snags nie eet nie.

ornamente nie dra en parfuum nie gebruik nie,
en op ’n mat gesprei op die grond sal hy slaap.
Hulle sê dat die Boeddha wat die einde van lyding bereik het
hierdie agtvoudige onthouding onthul het.

Met ’n ligte helder hart
sal hy die volmaakte agtvoudige onthouding beoefen
op die veertiende, vyftiende en agtste dae van elke halfmaand
en tydens die vyf maande van die reënseisoen.

En op die oggend na ’n dag van onthouding
sal die wyse man met ’n helder gees en dankbare gemoed
aan die gemeenskap van monnike
voedsel en drank uitdeel soos dit hoort.

Hy sal getrou na sy vader en moeder omsien
en hy sal ’n eerbare werk doen.
Die huisbewoner wat so sy plig volbring
sal na die Sayampabha-wesens opgaan.’