Sutta Nipāta 2.2

Verrotting

‘Wie leef van wilde rys, groen bone, erte,
blare, wortels en die vrugte van rankers
volgens voorskrif verkry
is nie genotsugtig nie en vertel nie leuens nie.

Wie leef van rysgeregte smaaklik voorberei en opgedis
en keurig en smaaklik deur ander aangebied
geniet, o Kassapa, stinkende verrotting.

“Stinkende verrotting is nie op my van toepassing nie,”
sê jy, o Brahma-verwante, terwyl jy smul
aan rysgeregte pragtig gerangskik met die vleis van voëls.
Maar ek vra jou, Kassapa:
wat is volgens jou die aard van stinkende verrotting?’

Kassapa:

‘Die vernietig van lewe, doodmaak, seermaak, vasmaak,
steel, kul, lieg, bedrieg,
nuttelose geleerdheid en omgang met ander se vroue—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Mense wat gulsig vir smaakgenot
opgaan in sinlike bevrediging en onsuiwerheid,
sinies, skeef en inkonsekwent van siening—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Hardvogtige mense wat genadeloos agteraf skinder,
wat vriende onbarmhartig in die rug steek,
wat onmededeelsaam aan niemand iets gee nie—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Woede, verwaandheid, halsstarrigheid en vyandskap,
bedrog, jaloesie en grootdoenerigheid,
ydelheid en omgang met skurke—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Korrupte skuldontduikers en informante,
oneerlike besigheidsmense en vervalsers,
skelms wat onreg pleeg—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Mense wat onbeheers teen lewende wesens is,
wat, ingestel op roof, ander benadeel,
boos, wreed, hard, minagtend—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Mense wat gedurig die ondergang van hierdie wesens soek
vaar dood, hatig die duisternis in
en stort blindelings in die hel—
dit, en nie vleiskos nie, is stinkende verrotting.

Nie die opgee van vis of vleis,
vas, naaktheid, afgeskeerde of gekoekte hare, vuilheid of growwe dierevelle,
die nakom van die vuurofferande,
’n menigte boetedoenings vir onsterflikheid op aarde,
spreuke, skenkings, offerandes of die waarneem van die seisoene
reinig ’n mens wat sy twyfel nie oorwin het nie.

Bewaak in jou swerf—en oorwin—die sintuie,
staan vas in die waarheid, vind vreugde in sagtheid so ferm,
oorstyg die beperkings, laat vaar alle pyn.
Die wyse kleef nie aan wat gesien en gehoor word nie.’

Aldus het die Deurlugtige die saak deeglik verduidelik
en hy wat wat die mantras deurkruis het, het verstaan.
In veelvoudige verse het die wyse dit bekend gemaak—
die smettelose, onafhanklike, moeilik navolgbare een.

Hy het geluister na die welgesproke Boeddha-woord
wat smetteloos is en alle leed verdryf.
Nederig het hy die Tathagata eer bewys
en terstond die weg van verlating betree.