Sutta Nipāta 2.4

Geluk

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige in die buurt van Savatthi gewoon, in die Jeta-plantasie in Anathapindika se park. ’n Goddelike wese wat met sy glansende voorkoms die Jeta-plantasie naglank verlig het, het na die Deurlugtige gekom, hom gegroet, eenkant gaan staan en toe die Deurlugtige met ’n vers aangespreek:

‘Baie gode en mense het gepeins oor geluk
en na welsyn verlang.
Vertel van die hoogste geluk.’

‘Om dwase te vermy,
met verstandiges te verkeer,
eer te betoon aan wie eer verdien—
dit is die hoogste geluk.

Om in ’n gunstige omgewing te woon.
in ’n vorige bestaan goed te gedoen het,
jou bestemming te verwerklik—
dit is die hoogste geluk.

Om geleerd en kundig te wees,
beskaafd en gedissiplineerd,
verfynd in die omgang—
dit is die hoogste geluk.

Om moeder en vader te versorg,
kind en vrou te ondersteun,
’n eenvoudige taak te verrig—
dit is die hoogste geluk.

Om vrygewig te wees, opreg te leef,
verwante te ondersteun,
onberispelik te handel—
dit is die hoogste geluk.

Om afstand te doen van die kwaad.
sterk drank te vermy,
waaksaam te let op verskynsels—
dit is die hoogste geluk.

Om eerbiedig en nederig te wees,
tevrede en dankbaar,
op die regte tyd na die dhamma te luister—
dit is die hoogste geluk.

Om geduldig en sagsinnig te wees.
met swerwende askete om te gaan,
op die regte tyd oor die dhamma te praat—
dit is die hoogste geluk.

Om noukeurig en kuis te wees,
die edel waarhede te sien,
nibbana waar te maak—
dit is die hoogste geluk.

Om ongeskok van gees te bly,
rustig, sonder verwyt en smet,
ten spyte van alle ervarings in die wêreld—
dit is die hoogste geluk.

Wie so handel, oorwin oral,
beweeg oral voorspoedig—
dit is hul hoogste geluk.’