Sutta Nipāta 2.6

Die goeie lewe

Die goeie en edel lewe
(die waardevolste, sê hulle)
is om die huislike staat te verlaat, is huisloosheid.

Maar wie luid van geaardheid is
en aan pyn-doen plesier het soos ’n dier
se lewe versleg,
se besoedeling neem toe.

’n Twisgierige monnik
in waanvoorstellings versluier
verstaan nie die waarheid nie
al word dit deur die Boedha verkondig.

Deur onkunde oorrompel besef hy nie
dat om ’n ontwikkelde gees te benadeel
verdorwenheid is nie,
’n weg wat hel toe lei.

So ’n monnik beland in rampspoed
van geboorte tot geboorte,
en na die dood stort hy in lyding
van duisternis tot duisternis.

Soos ’n rioolput wat oor jare vol geword het
is so ’n besoedelde een moeilik om skoon te kry.

As julle so ’n mens ken, o monnike,
een aan die huislike lewe verknog,
een met slegte begeertes, gedagtes, gedrag en lewenswyse—

verenig julle;
vermy hom;
verwyder veegsel;
verwerp uitskot;

blaas weg
dié met slegte begeertes, gedrag en lewenswyse;
verwyder soos kaf
dié wat voorgee om swerwers te wees.

Wees suiwer
in die geselskap van die suiweres.
Aandagtig, eendragtig, verstandig
sal julle ’n einde maak aan ellende.