Sutta Nipāta 3.1

Swerf

Van swerf sal ek vertel,
van hoe hy na diep beraad gekies het vir die lewe van ’n swerwer,
hoe hy met helder blik geswerf het.

Huisleef is vol en vuil
maar swerfleef oop en ruim—
dit het hy ingesien en uitgegaan.

Bose dade met sy liggaam het hy vermy,
slegte gewoontes uit sy taal geweer,
sy swerwersbestaan gesuiwer.

Ryklik versier met die kenmerke van uitnemendheid het die Boeddha
na Rajagaha, na die bergskuiling in Magadha gegaan
om aalmoese te neem.

Bimbisara het in sy paleis gestaan en hom gesien,
so vol van daardie tekens,
en uitgeroep:

‘Kyk mooi na daardie man, here.
Hoe indrukwekkend groots en skoon is hy nie.
Hoe waardig loop hy nie terwyl hy stip voor hom kyk

met sy oë aandagtig voor hom neergeslaan.
Ongetwyfeld is die monnik van verhewe stand.
Laat die koninklike boodskappers gou vasstel waarheen hy op weg is.’

Die koninklike boodskappers het die monnik gevolg
in afwagting waarheen hy op weg was
en waar hy sou tuisgaan.

Noulettend en aandagtig en beheersd op sy ongestoorde ronde
het die bedelaar die deure van sy sinne opgepas
en gou sy bak gevul.

Sy bedeltog voltooi, het die wyse die stad verlaat
en na Pandavaberg beweeg
om daar te bly.

Toe die boodskappers sien waar hy vertoef, het hulle nader beweeg,
maar een het teruggegaan
en die koning ingelig:

‘Daardie monnik, groot koning, sit in ’n grot
aan die oostekant van Pandavaberg
soos ’n tier, ’n bul, ’n leeu.’

By die aanhoor van die boodskapper se tyding
het die edelman vinnig in ’n hoë koets uitgery
na waar groot Pandava lê.

Die edelman het gery so ver hy kon en toe van die rytuig afgeklim,
te voet verder gegaan en nader beweeg
en by hom gaan sit.

Toe hy sit het die koning vriendelik gegroet,
’n geselsie aangeknoop
en toe gesê:

‘U is ’n jong man in u vroeë fleur,
mooi van kleur en goed gebou
soos ’n prins van adellike afkoms.

Ek sal u rykdomme skenk om te geniet.
Omring deur ’n raad van edeles kan u die trots van my krygsmag wees.
Maar antwoord my as ek u vra: wat is u afkoms?’

‘Reguit in daardie rigting, o koning, langs Himavant
lê ’n ryk en magtige land waar
die mense van Kosala woon.

Adicca is hulle van afstamming, van geboorte Sakiya.
Van hulle het ek afskeid geneem
en singenot neergelê.

Ek het die nadeel van singenot gesien
en die vrede van afskeidneem.
Ek sal uitgaan tot die stryd
waar rus is vir my gees.’