Sutta Nipāta 3.11

Die oorwinnaar

Waar hulle bedags rus, het die siener Asita gesien
hoe die groep van dertig gode
Inda vrolik-laggend loof en uitbundig prys
met skoon en helder klere uitgesprei.

By die sien van die gode so ekstaties gelukkig
het hy eerbied betoon en gesê:
‘Vanwaar die vergadering se blydskap so uitbundig,
die uitsprei en die swaai van klere?

Selfs toe die gode die Asuras oorrompel het
was die blydskap nie so groot nie.
Watter wonderlike ding het die geeste aanskou
om so gelukkig te wees?

Hulle roep luidkeels, sing en maak musiek, klap hande en dans.
Edeles wat woon op die kruin van berg Meru,
ek vra u
om my onkunde terstond te beëindig!’

‘Ons juig uitbundig
want ’n juweel onskatbaar werd
het in die Sakya-dorp Lumbini in die mensewêreld begin blink:
’n Bodhisatta—vir welsyn en geluk!

Vanuit die Woud van Wyses sal hierdie mensebul
—hierdie grootse mens op die allerhoogste lewenspiek—
die waarheidswiel vooruit laat rol
soos ’n leeu wat magtig oor die diere heers, sy brul uitkringend kan laat
hoor.’

By die hoor van die geroep het Asita uit die hemel van Tusita neergedaal,
na Suddhodana se paleis beweeg, gaan sit
en die Sakyas uitgevra:
‘Waar is die seun? Ek begeer om hom te sien.’

’n Seuntjie glansend mooi
stralend heerlik met ’n volmaakte vel
soos goud kunsvaardig voor die smeltoond met smidshand geboetseer
het die Sakyas toe ‘die Ongebondene’ laat sien.

Geluk het hom met vreugde vasgegryp
toe hy die seun sien so suiwer soos ’n vlam wat brand,
’n maan wat glyend tussen sterre skyn,
’n son wat wolkloos op ’n herfsdag gloei.

Geeste ongesien
het ’n skerm duisend maal uitkringend met talle speke
in die lug gehou om die son te keer
en waaiers van jakstert met grepe van goud op en neer geswaai.

‘Donker Skoonheid’, wyse askeet met saamgekoekte hare,
het innig-gelukkig die Sakya-trots
soos ’n glinstergoue munt op die oranje kleed sien lê
met die wit sambreel bo sy hoof gehou en hom vrolik opgetel,

en hy wat die voortekens van grootheid en die mantras ken
het hunkerend na die toekoms en met helder blydskap
sy stem verhef en plegtig uitgeroep:
‘Hierdie een is die onoortreflik hoogste mens.’

Maar gedagtig aan sy eie heengaan
het hy hartseer begin huil,
waarop die Sakyas die wenende wyse vra:
‘Verkeer die prins dan in gevaar?’

Toe die wyse die droeftreid van die Sakyas sien sê hy:
‘Geen leed of gevaar waarvan ek weet wag
op hierdie een—hierdie seun en tog geen gewone sterfling nie.
Luister fyn:

Dié seun sal staan op die kruin van verligting
en die wydste uitsig van suiwerheid sien
en uit meegevoel vir die menigte die waarheidswiel laat ro1,
en sy heilige wyse van leef sal wyd versprei.

Maar van leef bly vir my nie veel oor nie.
Ek sal voor die tyd sterf
en na die leer van die onvergelyklik-sterke nie luister nie—
dáárom treur ek, ongelukkig, bedroef.’

Ná hy die Sakyas oorvloedig verheug het
het die heilige man die harem verlaat
en met deernis sy eie susterskind
na die leer van die onvergelyklik-sterke geneig:

‘Wanneer jy eendag iemand hoor praat van ’n “Boeddha”,
van “hom wat die hoogste verligting bereik het en die weg van waarheid bewandel”
gaan dan soontoe en vra uit oor sy leer,
en leef die heilige lewe in die teenwoordigheid van daardie Deurlugtige.’

Geleer deur iemand so welwillend
wat die hoogste suiwerheid aanskou het nog lank voor dit gekom het,
het Nalaka verdienste opgegaar en sintuie bewaak,
en bly wag op die Oorwinnaar.

En toe die tyd van Asita se profesie kom
en die groot Oorwinnaar die wiel laat draai, het hy die nuus gehoor
en die uitnemende kolos onder die wyses gaan sien
en in vertroue oor die hoogste insig uitgevra.

‘Gotama, wat Asita gesê het word as waar aanvaar.
U wat tot die grens van alle verskynsels deurgedring het

vra ek wat huisloos leef, na heilige monnikwees streef:
verduidelik die weg na die uiterste insig.’

Die Deurlugtige:

‘Kom, ek sal verduidelik, die staat van wysheid uiteensit:
dit is moeilik te doen en moeilik te dra,
dit is vasstaan en sterkwees.

Bly egaal (dis net die gewone dorpse hoon en prys)
bewaar jou hart van verbittering,
leef kalm en nederig.

Soos vuur in brandende hout vlam allerlei drange na buite:
vroue wek begeerte by die wyse man
—laat hulle jou nie verlei nie.

Wees finaal klaar met al die veelvuldige vreugdes van seks
en met al die vorms van lewe roerend of stil
moet jy nóg twis nóg dweep.

Verbindend wetend dat “hulle soos ek is en ek soos hulle”
sal jy geen lewe neem
of laat neem nie.

Ontslae van wens en lus waaraan die gewone sterfling haak
sal jy met helder blik jou weg kan vind,
uit hierdie kuil kan kom.

Eet min, vra niks, wees matig, tevrede,
honger gestil, behoefte geblus,
uitgewoed.

Bedel ’n ronde, gaan dan na ’n woud se rand
en by ’n boomwortel, o wyse,
gaan jy sit.

Skep jou geluk in die woud waar jy vasbeslote
by ’n boomwortel
peins.

Gaan dorp toe as die nag begin dag word
maar voor die dorpse vra en gee
swig jy nie.

Wyse, storm nie in die dorp tussen die huise rond
en soek skimpend kos nie
—swyg.

Gaan in albei gevalle weer terug na die boom
of jy iets ontvang het of niks
ewe tevrede.

Verag geen gawe en sien op geen gewer neer.
jy wat geen stomme woord sè nie
en bedelend swerf.

Ek, die askeet, beduie velerlei paaie
wat eenmalig geleidelik
Oorkant toe lei.

O monnik, sny begeerteloos die synstroom af
en los die doen van blote plig,
en leed sal jou verlaat.

Ek sal die staat van wysheid uiteensit: wees skerp soos ’n lem,
sit jou tong teen die dak van jou mond
en beheer jou aptyt.

Sonder smet en band op heilig-leef gerig
dink jy nie oor baie nie,
vry gees.

Die dissipline van alleen-sit is die kluisenaar se diens,
eensaamheid is wysheid (dis bewys),
alleenheid is geluk.

Hoor die woord van die peinsende wyses wat genot versaak het,
wees nederig en vol vertroue, my leerling,
en jy sal in tien rigtings skyn.

Luister en leer van water wat in hol dieptes stroom:
klein watertjies klots rusteloos,
stil vloei die see.

Die dwaas is soos ’n half-vol pot,
die wyse soos ’n diep vol dam:
hol is luid, vol is stil.

Die kluisenaar het veel te sê oorlopend vol betekenis
sou hy die waarheid wetend leer:
wetend sê hy veel.

Maar wie wetend in homself gekeer is, wetend stil,
is die wyse wat wysheid verdien
en wysheid verkry het.’