Sutta Nipāta 3.2

Inspanníng

Terwyl ek my in diep bepeinsing by die Neranjara-rivier inspan
om met alle mag verlossing van gebondenheid te vind

kom Namuci nader en vol jammerte sê hy:
‘Hoe maer en bleek is jy. Die dood is aan jou sy.

Duisend dele dood is jy teen een deel lewe.
Leef meneer! Leef is beter! Lewend sal jy wins verwerf!

Leef volgens reë1, versorg die offervuur, verkry ruim gewin.
Waarom sal jy jou inspan?

Inspanning is ’n harde pad:
moeilik om te voltooi,
moeilik om te begin.’

Digby die Boeddha het Mara gaan staan toe hy hierdie verse voorlê.
In antwoord op sy woorde het die Deurlugtige gesê:
‘Tot watter nut is jy hier, o Bose, vriend van luiaards?

By my sal jy geen behoefte aan selfs die kleinste winsie vind nie.
Laat Mara praat van wins met wie dit nodig het.

In my is vertroue en krag en wysheid en vasberadenheid.
Waarom vra jy uit oor “lewe”?

Die wind wat hier waai sal strome en riviere laat opdroog.
Waarom sou stryd my bloed nie verskroei nie?

Bloed en gal en slym droog op en vleis vergaan
maar gees word helderder
en bestendiger in my word aandag, wysheid, kalmte.

Terwyl ek so leef in die ervaar van uiterste sensasies
begeer my gees geen singenot.
Kyk—suiwer wees!

Singenot word die eerste vyand genoem,
weersin die tweede,
die derde word honger en dors genoem,
begeerte die vierde;

die vyfde word traagheid en botheid genoem,
die sesde vrees,
die sewende twyfel,
huigel en verstoktheid die agtste;

daar is wins, roem, eer en reputasie valslik verkry;
’n hoë dunk van jouself en miskenning van ander.

Dít, o donker Namucci, is jou stormende leërmag.
Net die held sal oorwin, en wie oorwin vind geluk.

Lewe hier beteken vir my in gras geklee net mooi niks.
Eerder sterf in stryd as leef in nederlaag.

Hier het askete en brahmane ondergegaan sonder om die pad te ken
waarop die glansrykes loop, en hulle word nie meer gesien nie.

Ek sien Mara op sy olifant en ’n oorlogsmag wat my aan alle kant omring
maar ek gaan die stryd tegemoet, en sal van dié plek nie wyk nie.

Ek sal jou leërmag wat deur wêreld en gode nie oorwin kan word nie
met wysheid breek soos met ’n klip ’n ongebakte kleipot.

Met getemde voorneme en met vaste aandag sal ek reis
en wyd van land tot land al my dissipels leer.

Met wil en krag sal hulle my wat drang oorwin se voorskif volg
en so die vlak bereik waar droefheid nie meer geld nie.’

‘Al vir sewe jaar volg ek die Deurlugtige,
neem elke voetstap van hom waar,
maar by die volledig aandagtige Verligte
het ek nooit ’n kans gestaan.

’n Kraai vlieg oor ’n klip die kleur van vet en krys:
“Wat het ons hier, so lekker sag, so soet?”

Die kraai vlieg droëbek van die klip af op—
en ons draai moedeloos van Gotama weg.’

Uit die arm van die bose gly teleurgesteld sy luit,
en hy verdwyn.