Sutta Nipāta 3.5

Verdienstelike offers

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige in Rajagaha gewoon, op berg Gijjhakute. Die jong brahmaan Magha het na die Deurlugtige gegaan, vriendelik gegroet, ’n paar hoflike woorde gewissel, eenkant gaan sit en aan die Deurlugtige gesê:

‘Gotama, ek is ’n vrygewige prins van gawes. Ek streef op ’n geoorloofde manier na rykdom, en van die rykdom wat ek so nastreef en kry, gee ek aan een mens, aan twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege. tien. twintig, dertig, veertig, vyftig, honderd, en selfs meer. Gotama, verwerf ek baie verdienste as ek so mildelik gee?’

‘Inderdaad, jong man, jy verwerf baie verdienste as jy so mildelik gee. Enige vrygewige prins van gawes wat op ’n geoorloofde manier na rykdom streef en van die rykdom wat hy so nastreef en kry, aan een mens, aan twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien, twintig, dertig, veertig, vyftig, honderd, en selfs meer gee, verwerf baie verdienste.’

Toe spreek die jong brahmaan Magha die Deurlugtige in ’n vers aan:

‘Eerbiedwaardige en toeganklike Gotama,
ek vra u wat ’n geel kleed dra en huisloos swerf:
as ’n vrygewige huisbewoner, ’n prins van gawes,
soekend na verdienste ’n offer wil bring
en aan ander in hierdie wêreld kos en drank wil gee—
aan wie kan hy ’n suiwer offer bring?’

‘Magha, as ’n vrygewige huisbewoner, ’n prins van gawes,
soekend na verdienste, ’n offer wil bring
en aan ander in hierdie wêreld kos en drank wil gee—
so een sal slaag by hulle wat geskenke verdien.’

‘As ’n vrygewige huisbewoner, ’n prins van gawes,
soekend na verdienste, ’n offer wil bring
en aan ander in hierdie wêre1d kos en drank wil gee—
vertel my, o Deurlugtige, van hulle wat geskenke verdien.’

‘Aan hulle wat ongebonde deur die lewe swerf,
niks het nie en tog volkome en selfgenoegsaam is—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat uit alle boeie en bande losgekom het
en in hul vryheid tog beteuel is, rustig, sonder drif—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat uit alle boeie bevry is
en in hul vryheid tog beteuel is, rustig, sonder drif—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat van hartstog. haat en woede ontslae is
en gereinig van onsuiwerhede die verhewe lewe lei—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle sonder die driftige sug na hê en wees
in wie bedrog en trots nie voetplek vind nie—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat nie prooi is van begeertes nie
maar die vloed oorgesteek het en selfloos leef—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat nie begeer om iets op aarde te besit
of om hier of elders te bly voortbestaan nie—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat gerief en huis verlaat en ingetoë swerf
met ’n trajek soos van ’n weefspoel reguit—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat hul sintuie tot begeerlose rus gebring het
en bevry is soos die maan uit die greep van Rahu—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat kalm geword het, sonder begeerte, sonder wrok,
vir wie daar geen weergeboortes meer sal wees nie—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat geboorte en dood geheel en al verlaat
en alle onsekerheid laat vaar het—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat deur die wêreld swerf met net hulself as lamp
en niks besit nie, in elke opsig vry—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan hulle wat in hierdie lewe presies weet wat dit beteken
dat “hierdie die allerlaaste hergeboorte is”—
aan sulkes moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.

Aan ’n mens van kennis, lief vir bepeinsing, aandagtig,
ten volle verlig en ’n toevlug vir baie—
aan so een moet die brahmaan wat verdienste soek
op die regte tyd ’n offer wy, ’n gawe skenk.’

‘Deurlugtige, my vraag was waarlik nie dom nie
want u het my ingelig oor wie ’n geskenk verdien.
U weet inderdaad presies hoe dit op aarde is.
Hierdie waarheid is aan u goed bekend.

As ’n vrygewige huisbewoner, ’n prins van gawes,
soekend na verdienste, ’n offer wil bring
en aan ander in hierdie wêreld kos en drank wil gee—
vertel my, o Deurlugtige, van ’n offer wat werk.’

‘Offer, en laat jou gees volkome helder wees
terwyl jy jou offer bring, o Magha.
Wees vas en seker op die gee van jou gawe gerig
en jy raak van wrewel ontslae.

Sonder hartstog en met geen sweem van wrewel
ontwikkel jy ’n gees welwillend en onmeetlik ruim,
en dag en nag gedurig waaksaam
versprei jy dié oneindigheid in alle rigtings in.’

‘Wie word skoon, verlos, verhelder?
Langs watter weg kom mens in eie krag by die Brahmawêreld uit?
O wyse, vertel my, want ek weet nie
(die Deurlugtige is my getuie dat Brahma vandag gesien is,
want u is waarlik die gelyke van Brahma):
hoe, o Skitterende, bereik ’n mens die Brahmawêreld?’

‘Wie die drievoudig-werksame offer bring
sal slaag by hulle wat geskenke verdien.
Wie so offler—vrygewig en ruim—
bereik die Brahmawêreld—
dit verklaar ek, o Magha.’

Na hierdie woorde het die jong brahmaan Magha aan die Deurlugtige gesê:

‘Wonderlik, eerbiedwaardige Gotama, wonderlik! Net soos mens regop sou sit wat omgeval het, sou oopmaak wat toegemaak is, die weg vir iemand wat verdwaal het sou aandui, of ’n olielamp in ’n donker plek sou inbring sodat dié wat oë het vorms kan onderskei—so het die eerbiedwaardige Gotama op verskeie maniere die waarheid bekend gemaak. Ek neem toevlug in die deurlugtige Gotama, en in die waarheid, en in die gemeenskap van monnike. Mag ek in die teenwoordigheid van die deurlugtige Gotama die huislose lewe opneem, mag ek die monnike-lewe opneem.’

Die jong brahmaan Magha het in die teenwoordigheid van die Deurlugtige die huislose lewe, en die monnike-lewe, opgeneem. Nie lank nadat Magha die monnike-lewe opgeneem het nie, het hy self deur alleen, afgesonderd, ywerig, toegewyd en vasberade te leef, in ’n kort tyd die onoortreflike ideaal van die edel lewe in hierdie wêreld verstaan, ervaar en bereik—dit ter wille waarvan die seuns van goeie families met alle reg die huislike lewe verlaat en die huislose lewe opneem. Hy het tot die insig gekom dat hergeboorte vernietig is, dat die edel lewe volbring is, dat wat gedoen moes word gedoen is, dat daar niks meer in hierdie lewe oorgebly het nie. Die eerbiedwaardige Magha was een van die volmaaktes.