Sutta Nipāta 3.6

Die lys vrae

By geleentheid het die Deurlugtige in die Velu-plantasie by Kalandanivapa by Rajagaha gewoon. ’n God wat in ’n vorige lewe ’n bloedverwant van die swerwer Sabhiya was, het sekere vrae aan Sabhiya gegee en gesê:

‘Sabhiya, as enige swerwer of brahmaan hierdie vrae vir jou kan beantwoord, dan moet jy in sy teenwoordigheid die edel lewe lei.’

Die swerwer Sabhiya het hierdie vrae by die god geleer, na sekere algemeen bekende en beroemde swerwers en brahmane gegaan wat groepe volgelinge tot stand gebring en onderrig het (Purana Kassapa, Makkhali Gosala, Ajita Kesakambali, Pakudha Kaccayana, Sanjaya Belatthiputta en Nigantha Nataputta), en die vrae aan hulle gestel. Toe die swerwer Sabhiya die vrae stel, kon hulle dit nie beantwoord nie en het woede, weersin en bitterheid getoon. Ook het hulle hom teenvrae gevra.

Toe dink die swerwer Sabhiya:

‘Ek het hierdie algemeen bekende en beroemde swerwers en brahmane wat groepe volgelinge tot stand gebring het en onderrig (Purana Kassapa, Makkhali Gosala, Ajita Kesakambali, Pakudha Kaccayana, Sanjaya Belatthiputta en Nigantha Nataputta), vrae gestel. Hulle kon dit nie beantwoord nie en het woede, weersin en bitterheid getoon. Ook het hulle my teenvrae gevra. Ek is lus en gaan terug na die laer lewe en geniet ’n lewe van genot.’

Toe dink hy:

‘Die swerwer Gotama is ook algemeen bekend en beroemd, en het ’n groep volgelinge tot stand gebring en onderrig hulle. Kom ek gaan na die swerwer Gotama en vra hom hierdie vrae.’

Toe dink hy weer:

‘Hierdie algemeen bekende en beroemde swerwers en brahmane (Purana Kassapa, Makkhali Gosala, Ajita Kesakambali, Pakudha Kaccayana, Sanjaya Belatthiputta en Nigantha Nataputta), is almal oud en hoogs bejaard, en almal gevestigde seniors wat al lank gelede die huislose lewe betree het. Sal die swerwer Gotama ooit die vrae kan beantwoord? Want hy is nog jonk in jare en hy het maar onlangs die huislose lewe betree.’

En toe dink hy:

‘Maar mens moet ’n swerwer nie minag net omdat hy jonk is nie. Al is hy jonk, het hy baie mag en invloed. Kom ek gaan na die swerwer Gotama en vra hom hierdie vrae.’

Die swerwer Sabhiya vertrek toe op ’n reis, en kom by die Velu-plantasie by Kalandanivapa, by Rajagaha aan. Hy gaan na die Deurlugtige, groet vriendelik, wissel ’n paar hoflike woorde, gaan sit eenkant, en spreek die Deurlugtige met verse aan:

‘Vol twyfel het ek gekom met die drang om vrae te vra.
Ek vra u: los hulle op, beantwoord hulle een vir een
en in ooreenstemming met wat reg is.’

‘Jy het van ver af gekom met die drang om vrae te vra.
Vra, en ek sal hulle vir jou oplos, hulle een vir een beantwoord
in ooreenstemming met wat reg is.

Sabhiya, vra my ’n vraag,
enigiets wat jy in jou hart begeer.
Ek sal alle vrae vir jou oplos.’

Toe dink die swerwer Sabhiya:

‘Verbasend! Ongelooflikl Die ander swerwers en brahmane het my nie eens ’n kans gegee nie—die swerwer Gotama wel!’

Hoogs opgetoë vra hy die Deurlugtige toe ’n vraag:

‘Wat moet mens bereik om monnik genoem te word?
Op grond waarvan noem hulle mens mild, en beheers?
Waarom word iemand verlig genoem?
Ek vra u, o Deurlugtige, antwoord my.’

‘As jy jou eie pad gemaak het
en uitgekom het by volmaakte vrede anderkant alle twyfel,
as jy nie-wees en wees albei agtergelaat het,
die goeie lewe deurleef en hergeboorte vernietig—
dan, Sabbiya, is jy ’n monnik.

As jy immer gelykmatig en aandagtig
niemand op aarde skaad nie
en as onbekommerde pretensielose askeet
die lewenstroom oorgesteek het—
dan is jy mild.

As jy die kragte ontwikkel het
om die hele wêreld binnekant en buite te ervaar,
deur hierdie wêreld en die volgende heen gestoot het
en kalm op jou dood kan wag—
dan is jy beheers.

As jy alle tydperke deurvors het
en die sirkelgang van kwyn en herverskyn,
suiwer sonder smet en vlek is
en gekom het by die einde van geboorte—
dan word jy verlig genoem.’

Hoogs opgetoë vra die swerwer Sabhiya die Deurlugtige nog ’n vraag:

‘Wat moet mens bereik om brahmaan genoem te word?
Op grond waarvan noem hulle mens askeet, en suiwer?
Waarom word iemand held genoem?
Ek vra u, o Deurlugtige, antwoord my.’

‘As jy alle boosheid afgeweer het
om smetloos goed en ferm vas te staan,
die sirkelgang van leed deurbreek het
en nou volkome onafhanklik is—
dan, Sabiya, word jy brahmaan genoem.

As jy jouself smetteloos tot rus gebring
en by goed en kwaad verbybeweeg het,
geboorte en dood oorwin het
en hierdie wêreld ken asook die ander een—
dan noem hulle jou askeet.

As jy jouself binne en buite
van alle kwaad op aarde skoon gewas het,
jou in gedagtes nie verdiep nie
al is jy onder gode en mense vol gedagtes—
dan noem hulle jou suiwer.

As jy alle jukke en stroppe afgegooi het
en geen kwaad op aarde doen nie,
geheel en al vry is
en van niks afhanklik nie—
dan word jy held genoem.’

Hoogs opgetoë vra die swerwer Sabhiya die Deurlugtige nog ’n vraag:

‘Wie is volgens die verligtes ’n wêreld-deurvorser?
Op grond waarvan noem hulle mens vaardig, en verstandig?
Waarom word iemand ’n wyse genoem
Ek vra u, o Deurlugtige, antwoord my.’

‘As jy al die wêrelde van gode, mense en Brahma’s deurvors het
en jou uit hulle almal ontwortel
en van elkeen se bande bevry het—
dan word jy wêreld-deurvorser genoem.

As jy al die skatkamers van gode, mense en Brahma’s deurvors het
en jou uit hulle almal ontwortel
en van elkeen se bande bevry het—
dan word jy vaardig genoem.

As jy die werking van die sintuie innerlik en uiterlik deurvors het,
swart en wit agtergelaat het
en suiwer en wys is—
dan word jy verstandig genoem.

As jy in die ganse binne-wêreld en daarbuite
die waaragtig egte van wat vals is onderskei
en dus die lof van god en mens verdien en uit die vangnet los is—
dan is jy ’n wyse.’

Hoogs opgetoë vra die swerwer Sabhiya die Deurlugtige nog ’n vraag:

‘Wat moet mens bereik om kenner genoem te word?
Op grond waarvan noem hulle mens ryk aan insig, en sterk van daad?
Waarom word iemand adellik genoem?
Ek vra u, o Deurlugtige, antwoord my.’

‘As jy al die kennis van askeet en priester deurgedink
en anderkant al die kennis uit beweeg het
en nou volkome vry is van die drif om sintuiglik te ervaar—
dan, Sabhiya, is jy ’n kenner.

As jy ontdek het dat die wortel van die siekte innerlik en uiterlik
in die sinsbedrog van naam-en-vorm lê
en die verstrengeling van daardie wortel losgeskeur het
sodat jy nou volkome vry is—
dan word jy insigryk genoem.

As jy van alle boosheid in hierdie lewe los is
en vasbeslote
met alle krag
by die hel se leed verbybeweeg het—
dan word jy sterk van daad genoem.

As jy elke klewende ranker losgemaak
en elke bindende wortel
in jou eie binneste en daarbuite afgesny het
en nou volkome vry daar staan—
dan word jy adellik genoem.’

Hoogs opgetoë vra die swerwer Sabhiya die Deurlugtige nog ’n vraag:

‘Wat moet mens bereik om bedrewe in die dieper kennis genoem te word?
Op grond waarvan noem hulle mens edel, en pligsgetrou?
Waarom word iemand swerwer genoem?
Ek vra u, o Deurlugtige, antwoord my.’

‘As jy na elke leer op aarde luister
en in elkeen wat sterk is onderskei van swak
bly jy in elke opsig soewerein en vry
en sonder twyfel en onsekerheid—
so een, Sabbiya, noem hulle bedrewe in die dieper kennis.

As jy wyslik die drang na klewing afgesny het
om in ’n baarmoeder nie weer te lê nie,
van die drieërlei dryfveer ontslae is
en jou in die modderslyk van gedagtes nie begeef nie—
dan noem hulle jou edel.

As jy jou aardse pligte heeltemal vervul
en immer kontekskundig die waarheid ontdek het
en volkome vry is, in geen opsig verknog nie
en sonder enige weersin—
dan is jy pligsgetrou.

As jy swerf met helder wete
en elke daad wat lei tot pyn in elke sfeer vermy,
as jy ’n einde maak aan die waan en trots en gier en wrok
wat saamhang met die sug na naam en vaste vorm,
dan noem hulle jou swerwer—en bereiker van die hoogste.’

Hoogs opgetoë staan die swerwer Sabhiya van sy sitplek af op, hang sy kleed oor een skouer, bring met gevoude hande hulde aan die Deurlugtige en spreek hom openlik met verse aan:

‘O groot wyse, u het al drie en sestig valse leringe vernietig,
al die argumente wat berus op die leringe van askete
en wat deur voorstellings voortgebring en van voorstellings afhanklik is,
en u het die vloed oorgesteek.

O arahant, volmaak verligte, van hartstog gestroopte,
glansend wyse oorvloedig in insig,
u wat tot op die verste grens van leed en daarby verby beweeg het,
u is die beëindiger van leed, u dra my oor.

O wyse, sagte, lewegewende son-verwante
op die hoë middelpunt waar die weë van wysheid ontmoet,
u deurskou my onsekerheid, u dra my oor my twyfel.
Lof aan u.

My vroeëre twyfel het u opgeklaar, o heldersiende,
volkome wyse, helder verligte.
Vir u bestaan daar geen hindernisse nie

en voor u—kalm, besonne, ferm en eerlik—
verdwyn al wat probleem is.

As u praat, is Narada en Pabbata en al die ander gode u dankbaar,
o groot held, groot gees.

Lof aan u, o hoogste, edel mens,
die meerdere van elke ander mens op gans die aarde.

O Verligte, Leermeester, Wyse wat die Bose oorwin
en die sluimerende kwaad vernietig het,
u het die oorkantste oewer bereik en hierdie geslag met u saamgeneem.

Die basis van voortbestaan het u afgebreek,
die stuwende hartstogte opgeruim,
o leeu wat aan niks vashou nie en niks vrees nie.

Soos die pragtige wit lotus los op die watervlak dryf,
so laat u van u afrol wat goed is en sleg.
O held, strek u voete uit
sodat ek, Sabhiya, eer aan u kan betoon,
o Meester.’

Toe val die swerwer Sabhiya met sy kop by die voete van die Deurlugtige neer en sê:

‘Wonderlik, eerbiedwaardige Gotama, wonderlik! Net soos mens regop sou sit wat omgeval het, sou oopmaak wat toegemaak is, die weg vir iemand wat verdwaal het sou aandui, of ’n olielamp in ’n donker plek sou inbring sodat die wat oë het vorms kan onderskei—so het die eerbiedwaardige Gotama op verskeie maniere die waarheid bekend gemaak. Ek neem toevlug in die deurlugtige Gotama, en in die waarheid, en in die gemeenskap van monnike. Mag ek in die teenwoordigheid van die deurlugtige Gotama die huislose lewe opneem, mag ek die monnike-lewe opneem.’

‘Sabhiya, as iemand eers aan ’n ander skool behoort het en dan toelating tot die waarheid en die dissipline verlang, wag hy vier maande, en na vier maande, as die monnike tevrede is, laat hulle hom toe en orden hom as ’n monnik. Maar ek erken verskille tussen individue.’

‘Deurlugtige, as iemand wat eers aan ’n ander skool behoort het en dan toelating tot die waarheid en die dissipline verlang, vier maande lank wag, en na vier maande, as die monnike tevrede is, deur hulle toegelaat en as monnik georden word—laat my dan vier jaar wag, en laat die monnike my dan, as hulle tevrede is, toelaat en as ’n monnik orden.’

Die swerwer Sabhiya het in die teenwoordigheid van die Deurlugtige die huislose lewe, en die monnike-lewe, opgeneem. Nie lank nadat Sabhiya die monnike-lewe opgeneem het nie, het hy self deur alleen, afgesonderd, ywerig, toegewyd en vasberade te leef, in ’n kort tyd die onoortreflike ideaal van die edel lewe in hierdie wêreld verstaan, ervaar en bereik—dit ter wille waarvan die seuns van goeie families met alle reg die huislike lewe verlaat en die huislose lewe opneem. Hy het tot die insig gekom dat hergeboorte vernietig is, dat die edel lewe volbring is, dat wat gedoen moes word gedoen is, dat daar niks meer in hierdie lewe oorgebly het nie. Die eerbiedwaardige Sabhiya was een van die volmaaktes.