Sutta Nipāta 3.7

’n Groot man

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid was die Deurlugtige met ’n groot gevolg van 1250 monnike op reis onder die mense van Anguttarapa, en het hy by ’n dorp van die mense van Anguttarapa, met die naam Apana, aangekom.

’n Swerwer met gekoekte hare, Keniya, het gehoor:

‘Heer, die swerwer Gotama, van die Sakya-stam, het die Sakya-stam verlaat en is met met ’n groot gevolg van 1250 monnike op reis onder die mense van Anguttarapa, en het by Apana aangekom. Aangaande die eerbiedwaardige Gotama het die volgende positiewe berig gekom: “Die Deurlugtige is ’n arahant, ’n Volverligte, toegerus met kennis en goeie gedrag, ’n Welgekome, kenner van die wêrelde, onoortreflik, beheerser van dié wat getem moet word, onderwyser van gode en mense, ’n Boeddha, ’n Deurlugtige. Hy het die wêreld met insluiting van die gode, Mara en Brahma en wesens met insluiting van swerwers en brahmane, gode en mense verstaan en ervaar, en hy maak dit bekend. Hy onderrig ’n dhamma wat mooi in die begin, mooi in die middel en mooi in die einde is, en hy verkondig ’n edel lewe vol van betekenis en gelouterd. Hoe goed om sulke arahants te sien!”’

Toe gaan die swerwer met gekoekte hare, Keniya, na die Deurlugtige toe, groet hom vriendelik en gaan sit eenkant, en die Deurlugtige het hom, terwyl hy daar sit, met ’n gesprek oor die dhamma onderrig, gestimuleer en verbly, en Keniya sê toe aan die Deurlugtige:

‘Laat die heer Gotama saam met die groep monnike môre by my kom eet.’

Toe sê die Deurlugtige:

‘Die groep monnike is baie groot, 1250 in getal—en jy is ’n vriend van brahmane!’
Vir die tweede maal sê Keniya:

‘Heer Gotama, al is die groep monnike baie groot—1250 in getal—en al is ek ’n vriend van brahmane, laat die heer Gotama saam met die groep monnike môre by my kom eet.’

’n Tweede maal antwoord die Deurlugtige Keniya:

“Die groep monnike is baie groot, 1250 in getal—en jy is ’n vriend van brahmane!’

Die derde maal sê Keniya:

‘Heer Gotama, al is die groep monnike baie groot—1250 in getal—en al is ek ’n vriend van brahmane, laat die heer Gotama saam met die groep monnike möre by my kom eet.’

Toe stem die Deurlugtige met stilswye in.

Toe die swerwer met gekoekte hare, Keniya, besef dat die Deurlugtige ingestem het, staan hy op, gaan na sy kluisenaarshut en praat met sy vriende en kennisse, bediendes en verwante:

‘My vriende en kennisse, bediendes en verwante, luister na my! Ek het die swerwer Gotama uitgenooi om môre saam met ’n groep monnike by my te kom eet. Sal julle vir my die nederige werkies doen?’

Sy vriende en kennisse, bediendes en verwante het ingestem. Party het oonde gegrawe, party hout gekap, party skottelgoed gewas, party ’n groot waterhouer uitgesit en party die sitplekke gereed gemaak. Die aand het Keniya, die swerwer met gekoekte hare, ’n ronde paviljoen opgerig.

Op daardie stadium was die brahmaan Sela in Apana woonagtig. Hy was goed geskoold in die drie Vedas, die betekenisse van woorde, die rituele, die taalkunde, die grammatika, die mondelinge oorlewering, die letterkunde, die populêre opvattinge, en die wetenskap van liggaamlike kenmerke, en hy was 300 jong brahmane aan die onderrig in die mantras. Hy was Keniya, die swerwer met gekoekte hare, goedgesind. Omring van die 300 jong brahmane wat te voet heen en weer gestap het, gaan die brahmaan Sela toe na die kluisenaarshut van Keniya en sien die swerwers met gekoekte hare wat in die hut van Keniya gewoon het—hoe party oonde aan die grawe was, hoe party hout kap, party skottelgoed was, party ’n groot waterhouer uitsit, party die sitplekke gereed maak, en hoe Keniya, die swerwer met gekoekte hare, daardie aand ’n ronde paviljoen aan die oprig was. Toe hy Keniya sien, sê hy:

‘Gaan die eerbiedwaardige Keniya se seun of dogter trou, of word hier ’n offer voorberei, of is Seniya Bimbisara, die koning van Magadha, saam met sy hele leër uitgenooi?’

‘Nee, Sela, my seun of dogter gaan nie trou nie, hier word nie ’n offer voorberei nie, en Seniya Bimbisara, die koning van Magadha, is nie saam met sy hele leër uitgenooi nie. Maar ek is besig om ’n groot offer voor te berei. Want die swerwer Gotama, van die Sakya-stam, het die Sakya-stam verlaat en is met ’n groot gevolg van 1250 monnike op reis onder die mense van Anguttarapa, en het by Apana aangekom. Aangaande die eerbiedwaardige Gotama het die volgende positiewe berig gekom: “Die Deurlugtige is ’n arahant, ’n Volverligte, toegerus met kennis en goeie gedrag, ’n Welgekome, kenner van die wêrelde, onoortreflik, beheerser van dié wat getem moet word, onderwyser van gode en mense, ’n Boeddha, ’n Deurlugtige.” En ek het die swerwer Gotama uitgenooi om môre saam met ’n groep monnike môre by my te kom eet.’

‘Keniya, het jy gesê dat hy “ ’n Verligte” is?’

‘Inderdaad, Sela!’

‘Keniya, het jy gesê dat hy “ ’n Verligte” is?’

‘Inderdaad, Sela!’

Toe kom die volgende gedagte by die brahmaan Sela op:

‘Die woord Buddha kom baie seldsaam voor. Maar in die mantras is die twee en dertig fisieke kenmerke van ’n groot man oorgelewer. ’n Groot man met daardie kenmerke het slegs twee weë voor hom oop:

As hy ’n huisbewoner word, sal hy ’n koning word, ’n epogskeppende vors, ’n regverdige heerser, ’n wêreldoorwinnaar wat bestendigheid in die land skep en die sewe juwele besit—naamlik die juweel van die wiel, die juweel van die olifant, die juweel van die perd, die juweel van die edelsteen, die juweel van die vrou, die juweel van die skatmeester en die juweel van die raadgewer. Hy sal meer as ’n duisend dapper seuns met heldevoorkoms hê wat vyandige leërs verpletter. Hy sal hierdie land, deur see omring, sonder geweld en sonder swaard, maar met geregtigheid, oorneem.

Maar as hy die huislike lewe vir die huislose lewe verlaat, sal hy ’n arahant word, ’n Volverligte, beroemd deur heel die wêreld.

Waar, eerbiedwaardige Keniya, is die eerbiedwaardige Gotama, die arahant, die
Volverligte, nou tuis?’

Na hierdie woorde neem Keniya, die swerwer met die gekoekte hare Sela, die brahmaan, aan die regterhand en sê:

‘Sela, daar waar die blou lyn van die bome 1ê.’

Toe gaan die brahmaan Sela met sy 300 jong brahmane na waar die Deurlugtige was, nadat hy aan die jong brahmane gesê het:

‘Loop saggies, menere, een voet na die ander, want dit is net so moeilik om Deurlugtiges te nader as leeus wat alleen leef. En as ek met die swerwer Gotama praat moet julle my nie kort-kort onderbreek nie, maar wag totdat ek klaar gepraat het.’

Toe gaan die brahmaan Sela na die Deurlugtige toe, groet hom vriendelik, gaan sit eenkant en soek aan die liggaam van die Deurlugtige na die twee-en-dertig fisiese kenmerke van ’n groot man. Die brahmaan Sela sien al die kenmerke van ’n groot man, behalwe twee, aan die liggaam van die Deurlugtige. Aangaande hierdie twee kenmerke was hy onseker en geheel en al in die duister, naamlik die penis wat met die voorhuid bedek is, en die grootte van sy tong.

Die Deurlugtige het besef:

‘Die brahmaan Sela sien al die kenmerke van ’n groot man, behalwe twee, aan my liggaam. Aangaande hierdie twee kenmerke is hy onseker en geheel en al in die duister, naamlik die penis wat met die voorhuid bedek is, en die grootte van my tong.’

Toe gee die Deurlugtige ’n vertoning van bomenslike krag deur die brahmaan Sela sy penis met die voorhuid bedek, te laat sien. En hy steek sy tong uit en bedek albei ore agtertoe en vorentoe, en albei neusgate agtertoe en vorentoe en sy hele voorkop met sy tong.

Die brahmaan Sela dink toe:

‘Die swerwer Gotama is inderdaad volledig, en nie maar net gedeeltelik nie, met die twee en dertig fisieke kenmerke van ’n groot man toegerus. Tog weet ek nie of hy ’n Boeddha is of nie. Maar ek het gehoor dat hoogs bejaarde brahmane, onderwysers en onderwysers van onderwysers, sê: “Arahante, Volverligtes, maak hulself bekend as hulle voorkoms geprys word.” Kom ek prys Gotama openlik met gepaste verse.’

Toe prys die brahmaan Sela die Deurlugtige met gepaste verse:

‘Deurlugtige, u liggaam is volmaak en glansend
met u vel die kleur van goud en u tande helder wit.
U is mooi om na te kyk, o welgebore sterke

met al die eienskappe van ’n welgebore mens,
’n groot mens, op u liggaam.

Helder van oog, mooi van gelaat en regop, koninklik indrukwekkend van gestalte
skitter u soos die son in die vergadering van askete,

o monnik met u pragtige huid die kleur van goud.
Met so ’n onoortreflike voorkoms, waarom sou u ’n askeet wees?

U verdien dit om koning te wees, ’n epogskeppende vors,
’n wêreldoorwinnaar op ’n triomfwa, die heerser van gans Indië

met krygers en magtige konings aan u toegewy.
Regeer vorstelik, o hoogste koning, o heerser van mense.’

‘Koning is ek, o Sela, waarheidskoning sonder weerga.
Met my leer sit ek ’n wiel aan die draai, ’n wiel wat nie weer sal omdraai nie.’

‘U beweer dat u volkome verlig is, ’n waarheidskoning sonder weerga.
U sê, o Gotama, dat u met u leer ’n wiel laat draai.

Maar wie is die generaal, die dissipel, die volgeling van die meester
wat hierdie waarheidswiel ná u verder sal laat rol?’

‘Die wiel, die onoortreflike waarheidswiel wat ek aan die draai gesit het,
o Sela, sal Sariputta—hy wat na die Tathagata aard—laat voortrol.

Omdat ek weet wat geweet moet word,
bou wat gebou moet word en breek wat gebreek moet word
is ek, o brahmaan, ’n Vedigte.

Verdryf jou twyfel en vertrou my, o brahmaan.
Volkome verligtes word maar selde gesien.

Ek is een van diegene wat jy moeilik weer in die wèreld sal sien verskyn:
’n volkome verligte, een wat soos geen ander nie pyle kan uitsny en genees,

’n onoortreflik hoogste wese wat Mara se leërmag vernietig en alle vyande oorwin het
en wie se vreugde deur geen vrees bedreig word nie.’

‘Slaan ag, eerbiedwaardige here, op wat die een met die helder sig sê.
Hy is die geneser, die held, en hy brul soos ’n leeu in die veld.

Wie—al is hy van lae afkoms—kan kyk
na die onoortreflik hoogste wese wat Mara se leërmag vernietig het en nie tot blye oortuiging kom nie?

Wie wil, volg my; wie nie wil nie, gaan weg, want ek gaan die bedelorde in
in die teenwoordigheid van hom wat ten diepste verstaan.’

Die volgelinge van Sela:
‘As hierdie boodskap van hom wat volkome verlig is u behaag, o heer,
sal ook ons die bedelorde ingaan
in die teenwoordigheid van hom wat ten diepste verstaan.

Hierdie drie honderd brahmane versoek nederig
met uitgestrekte gevoude hande:
“O Deurlugtige, ons wil in u teenwoordigheid die suiwer lewe leef.”’

Die Deurlugtige:
‘O Sela, uitnemend verkondig ek die suiwer lewe
van groot belang vir ons hier-bestaan en tog nie aan ylende tyd gebind nie.
Bedelmonnik-wees bied baie vir ’n wakker mens wat moeite doen.’

Die brahmaan Sela het saam met sy groep in die teenwoordigheid van die Deurlugtige die huislose lewe, en die monnike-lewe, opgeneem. Teen die einde van die nag laat die swerwer Keniya met gekoekte hare, wat ’n groot verskeidenheid verruklike kos berei het, die Deurlugtige weet dat dit tyd is:

‘Dit is tyd, eerbiedwaardige Gotama. Die kos is gereed.’

Die oggend trek die Deurlugtige hom toe aan, neem sy bedelbak en kleed, gaan na die kluisenaarshut van Keniya, en gaan sit met die groep monnike op die plek wat gereed gemaak is. Keniya het self die groep monnike, onder leiding van die Deurlugtige, met die groot verskeidenheid verruklike kos bedien en versadig. Nadat die Deurlugtige klaar geëet en sy hande en bedelbak afgespoel het, gaan sit Keniya op ’n lae bankie eenkant. Waar hy daar sit, bedank die Deurlugtige toe met die volgende verse die swerwer Keniya met die gekoekte hare:

‘Die belangrikste in die brahmaanse offer is die vuur,
die belangrikste van die Vediese liedere is die Savitti,
die belangrikste onder mense is die koning,
die belangrikste van alle strome is die see,

die belangrikste van die nagligte is die maan,
die belangrikste van alles wat brand is die son—
en die belangrikste vir hulle wat verdienste soek en aalmoese skenk is die Orde.’

Daarna staan die Deurlugtige van sy sitplek af op en vertrek.

Deur alleen, afgesonderd, ywerig, toegewyd en vasberade te leef, het die eerbiedwaardige Sela en sy groep self in ’n kort tyd die onoortreflike ideaal van die edel lewe in hierdie wêreld verstaan, ervaar en bereik—dit ter wille waarvan die seuns van goeie families met alle reg die huislike lewe verlaat en die huislose lewe opneem. Hy het tot die insig gekom dat hergeboorte vernietig is, dat die edel lewe volbring is, dat wat gedoen moes word gedoen is, dat daar niks meer in hierdie lewe oorgebly het nie. Die eerbiedwaardige Sela en sy groep was volmaaktes.

Toe gaan die eerbiedwaardige Sela met sy groep na die Deurlugtige toe, hang sy kleed oor een skouer, bring met gevoude hande hulde aan die Deurlugtige en spreek hom met die volgende verse aan:

‘Agt dae gelede het ons in u toevlug geneem, o heldersiende.
Vir sewe nagte is ons in u leer onderrig, o Deurlugtige.

U is die Boeddha, u is die Leermeester, u is die Wyse wat Mara oorwin het.
U het die drifte afgesny,
die vloed oorgesteek en hierdie geslag oorgehelp.

By die grondslae van bestaan het u verby beweeg,
die smette skoongemaak.
U is ’n leeu wat van niks afhanklik is nie en vrees en angs agtergelaat het.

Hierdie drie honderd monnike staan met uitgestrekte gevoude hande.
Strek u voete uit sodat die Nagas eer aan u kan betoon, o held, o Meester.’