Sutta Nipāta 3.8

Die dood

Die lewe van sterflinge hier is sonder rede en wete
en kort en vol swaarkry en pyn.

Geborenes kan nie keer dat hul sterf nie en met oud word kom dood
en dit is waar van alles wat leef.

Soos ’n vrug, eenmaal ryp, in gevaar is om selfs vroeg in die môre te val,
so is ’n mens, eenmaal gebore, in gevaar om op enige tydstip te sterf.

Soos potte van klei uiteindelik almal tot skerwe verbreek
so is die lewe van wesens so sterflik.

Jonges en oues en dwases en wyses gaan almal die mag van die dood in,
is almal bestem vir die dood.

Wanneer mense deur die dood oorval word en na die ander wêreld gaan
kan verwante mekaar nie beskerm nie, selfs nie ’n vader sy seun nie.

Kyk, terwyl die familie huilend toekyk, word die sterflinge een vir een weggedra
soos ’n bees ter slagting.

Omdat die wyses die bestel van die wêreld geteister deur dood en verval verstaan,
treur hulle nie.

Vir een van wie jy nie weet vanwaar hy kom of waarheen hy gaan nie
en van wie jy die begin en die einde nie sien nie, treur jy tevergeefs.

As ’n dwaas wat treur niks bereik nie behalwe om homself te benadeel,
geld dit ook van ’n wyse.

Geween en droefheid lei nie tot gemoedsrus nie maar tot meer lyding
en tot die benadeling van die liggaam.

Maer en bleek doen jy jouself leed aan maar kan tog nie die dooies lewend hou nie,
en treur tevergeefs.

As jy droefheid nie agterlaat nie beweeg jy steeds dieper die lyding in
en terwyl jy die dooie beween, word jy ’n slaaf van die droefheid.

Kyk hoe selfs sterk manne op sterwe, op pad na die gevolge van hul dade,
sidderend in die mag van die dood stort terwyl hulle nog lewe.

Daar is teleurstelling omdat dinge altyd anders uitdraai as wat mense verwag—
sien, die bestel van die wêreld.

Selfs as ’n man ’n honderd of meer jare lewe
word hy tog geskei van sy familiekring en gee hy die lewe op aarde prys.

Luister dus na die arahant, laat vaar jou droefheid
as jy na ’n dooie kyk wat sy tyd voltooi het, en weet: ‘ek sal hom nie terugbring nie.’

Net so vinnig as wat mens ’n brandende huis met water afkoel
sa1 ’n wyse, verstandige, geoefende, vaardige man
leed wegwaai sodra dit verskyn,
net soos die wind ’n donsie katoen.

Jy wat jou heil soek, trek uit jou pyl:
jou droeftreid, begeerte en klagte.

As jy die pyl uitgetrek het en los is,
as jy vrede van gees bereik het en by alle leed verby is,
dan is jy koel, mens sonder leed.