Sutta Nipāta 3.9

Die ware edelmens

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige by Icchanamkala in die Icchanamkala-bos gewoon. Op daardie stadium was ’n groot aantal beroemde en welgestelde brahmane by Icchanamkala woonagtig: die brahmane Canki, Tarukkha, Pokkharasati, Janussoni, Todeyya, asook ander beroemde en welgestelde brahmane. Terwyl die jong brahmane Vasettha en Bharadvaja te voet heen en weer gestap het, het die volgende gesprek ontwikkel:

‘Hoe, meneer, word mens ’n brahmaan?’

Die jong brahmaan Bharadvaja het geantwoord:

‘In die mate dat mens van goeie afkoms is van vaderskant en van moederskant, uit sewe generasies so suiwer dat geen vinger van blaam na jou geboorte gewys kan word nie, word jy ’n brahmaan.’

Die jong brahmaan Vasettha het gesê:

‘In die mate dat mens deugsaam is en die regte geloftes aanhang, word mens ’n brahmaan.’

Bharadvaja kon Vasettha nie oortuig nie, en Vasettha kon Bharadvaja nie oortuig nie. Toe sê Vasettha aan Bharadvaja:

‘Bharadvaja, die swerwer Gotama, ’n seun van die Sakyas, het die Sakyas verlaat en woon by Icchanamkala in die Icchanamkala-bos. Aangaande die eerbiedwaardige Gotama het die volgende positiewe berig gekom: “Die Deurlugtige is ’n arahant, ’n Volverligte, toegerus met kennis en goeie gedrag, ’n Welgekome, kenner van die wêrelde, onoortreflik, beheerser van dié wat getem moet word, onderwyser van gode en mense, ’n Boeddha, ’n Deurlugtige.” Kom ons gaan na die swerwer Gotama toe en vra hom oor hierdie saak uit. Soos die swerwer Gotama dit aan ons verduidelik, so sal ons dit verstaan.’

‘Ja, goed so,’ het Bharadvaja met Vasettha se voorstel ingestem. Toe gaan die jong brahmane Vasettha en Bharadvaja na waar die Deurlugtige was, groet hom vriendelik, gaan sit eenkant en spreek hom met verse aan:

‘Ons is albei aanvaarde en erkende kenners van die drie Vedas.
ek ’n dissipel van Pokkharasati, hy van Tarukkha.

Ons is meesters van wat in die drie Vedas verkondig word
en ken die metrum, die grammatika, die resitering so goed soos ons leermeesters.

Weet dit, o heldersiende:
Ons verskil van mening aangaande die betekenis van geboorte, Gotama.
Bharadvaja beweer mens is ’n brahmaan op grond van geboorte,
en ek beweer dit is op grond van dade.

Omdat ons mekaar nie kan oortuig nie het ons gekom om u te vra,
o Deurlugtige, u wat beroemd is as volkome verligte.

Soos mense die nuwe maan ontroerd vereer met gevoude hande uitgestrek,
so vereer hulle Gotama in die wêreld.

Ons vra u, Gotama, wat as oog van die wêreld verskyn het:
word mens ’n brahmaan deur geboorte of deur daad?
Vertel u ons—want ons weet dit nie—
waaraan ons ’n brahmaan kan ken.’

‘Vasettha, ek sal die indeling van die veelsoortige lewende wesens
in die korrekte orde aan julle verduidelik:

Ken gras en bome wat geen bewussyn het nie,

insekte van motte tot miere,

viervoetige diere, klein en groot,

slange en reptiele wat op hulle mae seil,

visse wat in die water leef,

voëls wat met vlerke deur die lug sweef—
uiteenlopende soorte, elk met sy onderskeidende kenmerke.

Die veelvoudige onderskeidende kenmerke van daardie lewensvorme
ontbreek by mense:

Nie wat betref hare, kop, ore of oë,
mond, neus, lippe of wenkbroue,

nek, skouers, maag of rug,
heupe, borskas, manlike of vroulike geslagsorgane,

hande, voete, palms of naels,
kuite, dye, huidskleur of stem
is daar onderskeidende kenmerke soos by ander lewensvorme nie.

By mense is daar nie fisieke soortverskille nie
maar slegs verskille van funksie en konvensie.

Vasettha, besef dat
’n mens wat van boerdery leef
’n boer is en nie ’n brahmaan nie;

’n mens wat van ’n ambag leef
’n ambagsman is en nie ’n brahmaan nie;

’n mens wat van handel leef
’n handelaar is en nie ’n brahmaan nie;

’n mens wat van diens leef
’n dienskneg is en nie ’n brahmaan nie;

’n mens wat van diefstal leef
’n dief is en nie ’n brahmaan nie;

’n mens wat van boogskiet leef
’n soldaat is en nie ’n brahmaan nie:

’n mens wat leef van offerhandes bring
’n priester is en nie ’n brahmaan nie;

’n mens wat leef van die opbrengs van ’n dorp of koninkryk
’n koning is en nie ’n brahmaan nie.

Ek noem ’n mens nie brahmaan
op grond van wie sy ma is
of omdat hy “meneer” genoem word en ryk is nie.
’n Mens wat niks het nie en na niks gryp nie—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat alle bande afsny sonder om ’n ophef te maak
en vry anderkant enige binding leef—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat elke riem en tou en toom losgemaak
en as verligte elke hindernis weggeneem het—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat onskuldig belediging, slae en gevangenskap verdra
met die krag van geduld as sy weermag—
so een noem ek brahmaan.

Iemand sonder weersin wat deugsaam en nederig sy plig doen
en sy laaste liggaam tem—
so een noem ek brahmaan.

Iemand aan wie sintuiglike begeertes nie kleef nie
so min as water aan ’n lotusblaar of ’n mosterdsaad op ’n naald se punt—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat met insig in die einde van sy leed
sy las en juk in hierdie lewe neergelê het—
so een noem ek brahmaan.

Iemand diepsinnig-wys wat ’n goeie van ’n slegte weg kan onderskei
om so die hoogste eindpiek te bereik—
so een noem ek brahmaan.

Iemand sonder huis en sonder wens
wat ewemin met mense met of sonder huis verkeer—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat geweld teen lewe staak of dit nou roer of stil is
en wat nóg doodmaak nóg vir doodmaak rede gee—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat tussen vyandiges vriendelik is, tussen geweldenaars rustig
en tussen grypsugtiges meedeelsaam—
so een noem ek brahmaan.

Iemand van wie begeerte, haat, ydelheid en huigel afrol
soos mosterdsaad van ’n naald se punt—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wie se woorde fyn, helder en waar is
en niemand tot woede prikkel nie—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat niks vat nie tensy dit ’n vrye aanbod is
of dit nou kosbaar is of nie, klein of groot, veel of min—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat vry van alle bande op niks daarbuite steun nie
en by wie geen wens na hierdie wêreld of een hierna bestaan nie—
so een noem ek brahmaan.

Iemand by wie drif en twyfel in wete verdwyn
en wat die sterflose diepte betree het—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat anderkant die dubbelband van deug en ondeug uitbeweeg
en tog leedloos smetloos suiwer is—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat van bestaansplesier ontdaan
en soos die helder maan so skoon en suiwer skyn—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat ontkom het aan die harde sirkelgang van dwaas bestaan
vol teëspoed en die oewer aan die anderkant bereik het—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat sonder drang en sonder twyfel mediteer
en helder uitgeklaar aan niks meer vashou nie—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat bestaansgenot tot niet maak
en in hierdie lewe huisloos swerf—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat die drang na bestaan tot niet maak
en in hierdie lewe huisloos swerf—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat die las van binding aan mens en god kan afgooi
en volkome los van elke juk beweeg—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat koel van lief en leed ontslae, ook van bestaan kan afskeid neem
en soos ’n held oor die hele wêreld triomfeer—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat geluk vind in nie-verknogtheid en in die wete
van die helder mens dat alle dinge sterf en weer verrys—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat die onsuiwerhede afgewas het, die arahant
wie se weg nóg gode nóg halfgode nóg mense ken—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat niks het uit die verlede, in die hede en vir die toekoms nie,
die besitlose wat na niks gryp nie—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat gebaai het in die water van wysheid, ’n verligte held,
’n edel bul, ’n wyse wat seëvier sonder begeerte—
so een noem ek brahmaan.

Iemand wat sy vorige lewens en hemel en hel ken
en die einde van geboorte bereik het—
so een noem ek brahmaan.

Die rang van naam en stam in die wêreld gevestig
het oral deur konvensie en afspraak tot stand gekom.

Vir ’n lang tyd was oningeligtes met die valse denkbeeld behep
en het hulle aan ons verkondig dat mens brahmaan word deur geboorte.

Nie deur geboorte word mens brahmaan, nie deur geboorte nie-brahmaan.
Deur handeling word mens brahmaan, deur handeling nie-brahmaan.

Deur handeling word mens boer, deur handeling ambagsman,
deur handeling handelaar, deur handeling dienskneg,

deur handeling dief, deur handeling soldaat,
deur handeling priester, deur handeling koning.

Wyses neem waar hoe handeling werklik werk:
hulle sien hoe dinge mekaar veroorsaak en verstaan dat dade vrugte dra.

Handeling laat die wêreld draai, handeling laat die mensdom draai,
handeling bind lewende wesens in soos ’n luns ’n rollende wiel.

Deur soberheid, afsondering, onthouding en selfbeheer word mens brahmaan,
bereik mens die hoogste staat van brahmaan-wees.

Weet, o Vasettha, dat vir die wyses iemand in die drie Vedas gedrenk en kalm
en ontslae van hergeboorte—dat so iemand Brahma en Sakha is.’

Na hierdie woorde het die jong brahmane Vasettha en Bharadvaja aan die Deurlugtige gesê:

‘Wonderlik, eerbiedwaardige Gotama, wonderlik! Soos wanneer iemand regop sou sit wat omgeval het, sou oopmaak wat toegemaak is, die weg sou aandui vir iemand wat verdwaal is, of ’n olielamp in ’n donker plek sou inbring sodat dié wat oë het, vorme kan sien—so het die eerbiedwaardige Gotama die dhamma op verskeie maniere verduidelik. Ons neem toevlug by die eerbiedwaardige Gotama, by die dhamma,en by die sangha. Mag die eerbiedwaardige Gotama ons as leke-dissipels aanvaar wat van nou af vir die res van ons lewens by hom toevlug geneem het.’