Sutta Nipāta 4.12

Die klein bespreking van stryd

‘Sommige hou vas aan hul eie dogmas.
As kenners begeef hulle hul in allerlei dispute en beweer:
“As iemand hierdie siening huldig, ken hy die waarheid;
as hy dit verwerp is hy onkundig.”

So begeef hulle hul in ’n getwis.
“Die een wat verskil, is dom en ongeleerd” sê hulle.
Watter standpunte is waar?
Want hulle staan almal bekend as geleerdes!’

‘As iemand wat ’n ander se waarheid misken
’n dom, onkundige dwaas is,
is hulle almal dom dwase
want hulle hou almal vas aan hul eie dogmas.

As mense op grond van dogma suiwer is, wys, geleerd, verstandig—
dan is nie een van hulle ’n dwaas nie,
want hulle is geheel en al dogmaties.

Ek hou nie vol dat “dít die waarheid is” nie—
dit is wat dwase oor en weer aan mekaar sêl
elkeen maak sy eie dogma waar
en bestempel dan ’n ander een as dwaas.

‘Wat sommige “eg en waar” noem,
noem ’n ander een “leeg en vals”.
So begeef hulle hulle in ’n getwis.
Waarom verkondig die askete nie één leer nie?

Daar is tog net één waarheid, nie ’n tweede nie:
’n ruimte waarin hy wat weet, weet!
Maar hulle proklameer uiteenlopende waarhede—
waarom verkondig die swerwers nie één leer nie?

Waarom verkondig die twistendes
wat as geleerdes bekend staan uiteenlopende waarhede?
Is daar werklik baie uiteenlopende waarhede
of is hulle net besig met hulle eie spitsvondigheid?’

‘Daar is nie baie uiteenlopende waarhede,
nie vastighede in die wêreld nie—net voorstellings.
Hulle stel spitsvondigheid in die dogmas op
en praat dan dualisties van “waar” en “vals”.

Afhanklik van wat hy sien en hoor en dink en van reëls en geloftes
sien die dwaas op ander neer.
Hy skop tevrede vas in sy opinie
en beweer minagtend
dat ánder dom-onkundig is.

Deurdat hy ’n ander as “dom” bestempel
beskou hy homself as “kundig”;
hy noem homself “geleerd”
en minag ’n ander.

Vol verregaande dogma,
hoogmoedig, trots,
deur homself gesalf—
sy eie dogmas is volmaak!

As jy deur ’n ánder se woord verneder word
is jy ’n mens van geringe wysheid;
as jy wys en verstandig is in eie reg
is geeneen van die askete ’n dwaas nie.

“Wie ’n ander leer as hierdie een verkondig
het dit mis en is nie volkome suiwer nie”—
só verkondig die sektes uiteenlopende sieninge,
hartstogtelik opgewonde met hul eie dogmas.

“Dít is suiwerheid,” verklaar hulle,
en ontken dat daar suiwerheid in ander leerstellings is.
So is die sektes verbete in uiteenlopende sieninge
en hou vol dat hul eie siening rotsvas is.

As iemand volhou dat sy eie siening rotsvas is
sál hy ’n ander mens ’n dwaas noem;
hy sál twis ontlok
as hy ’n ander spreker dwaas noem en onsuiwer in die leer.

Wie in ’n dogmatiese standpunt eiesinnig volhard
begeef hom in twis in die wêreld.
Die wyse bly weg van alle dogmatiese standpunte,
laat hom met meningsverskille nie in nie.’