Sutta Nipāta 4.13

Die groot bespreking van stryd

‘Almal wat by hul dogmas staan
en volhou “dís die waarheid”
ontvang blaam of behaal lof.’

Die Deurlugtige:

‘En dié is onbenullig, vir vrede ongeskik.
Twis hét dié twee vrugte, sê ek;
sien dit in, staak die getwis,
ervaar die staat van twislose stilte.

Een wat weet
soek in geen van die menigte opinies heil nie;
waarom sou een wat nie geraak word
deur wat hy sien en hoor nie— ’n onafhanklike—
afhanklikheid soek?

Wie moraliteit tot hoogste goed verhef
en sê dat suiwerheid uit selftug spruit
neem ’n eed en hou daarby:
“kom ons dril, sodat ons suiwer kan wees”
Maar al noem hulle hulself eksperte
keer hulle in die bestaanskring terug;

want as so ’n mens reël en eed oortree
sidder hy omdat hy in sy plig gefaal het,
en dan smag hy na suiwerheid
soos ’n reisiger wat ver van huis en karavaan verdwaal.

(Maar hy wat elke reël en eed laat vaar
en elke gedragskode of dit nou verwag of verwerp word
en na suiwer- en onsuiwer-wees
ewemin streef—
hy leef afgeskeie, en vind vrede.)

Afhanklik van afstootlike boete-praktyke
of van wat gesien, gehoor of gedink is
kerm daardie mense luidkeels oor suiwerheid—
maar hulle is nie ontslae van hul drang
na bestaan op bestaan nie.

Vir dié wat wens, vermenigvuldig wense
en hul bewe voor hul lugkastele.
(Maar waarom sou iemand bewe
vir wie dood en hergeboorte nie bestaan nie,
en waarvoor sou hy wens?)’

‘Die leer wat party “die hoogste” noem
noem ander “swak”.
Watter standpunt is reg?—
want almal gee hulself as spesialiste uit;

elkeen noem sy eie leer volmaak
en ’n ander een s ’n swak.
So stry en twis hul
en elkeen sê sy eie waarheid is die suiwer een.’

‘As iets swak is omdat ander dit verag
sal daar nooit ’n goeie leer wees nie—
want die menigte beskou
uitsluitlik hul eie opvatting as sterk
en elke ander een as swak;

die bewondering vir hul eie opvatting
is so groot as die aanprys van hul eie weg;
al hul sienswyses sou waar wees,
en suiwerheid hul eksklusiewe eiendom.

(Maar die brahmaan volg niemand ná nie;
doen ondersoek,
maar omhels nie een
van al die waarheidstelsels nie;
styg uit bo die getwis
deur nie nog weer ’n ander waarheidsleer
as die beste te beskou nie.)

Party glo dat suiwerheid van dogma kom
en beweer: “ek weet, ek sien mos dat dit só is”;
maar van watter nut is daardie “sien”
as jy reeds oorboord gegaan
en in nog weer ’n ander dogma
die “suiwerheid” ontdek het?

Wie sien, sien naam-en-vorm,
en wat hy gesien het, is wat hy ken;
hy kan maar veel of min sien—
suiwerheid, sê kenners,
kom nie van sien nie.

Die dogmatis kies
klaargemaakte dogma
en is geen gids na suiwerheid nie
want hy (wat van suiwerheid sê
dat hy dit dáár ge-“sien” het)
beskryf as “goed” . . .
waarvan hy afhanklik is!

Nooit pas ’n brahmaan in die kategorieë in
van “dogma-volger” en “skool-gebondene”;
hy verstaan sosiaal-gebore konvensies:
ander gryp dit aan,
hy bly ongeraak;

met aardse bande hier is die wyse nie gebind nie;
in dispute wat ontbrand is hy nie party-man nie;
onder rusteloses is hy stil, gelykmatig;
ander gryp vas, hy laat los;

skoon van ou onsuiwerhede
bring hy nie nuwes voort nie:
hy volg nie eie wense nie
en is nie in eiedunk geanker nie;
verstandig
is hy van dogmas verlos;
hy hou nie aan die wêreld vas nie
en verwyt homself nie;

hy ontwapen alle geesverskynsels
gebaseer op sien en hoor en dink;
die wyse lê vry sy laste neer;
is nie reëlgebonde nie;
skram van niks weg
en soek na niks’-

sê die Deurlugtige.