Sutta Nipāta 4.16

Gesprek met Sariputta

Die eerbiedwaardige Sariputta:

‘’n Leraar het van Tusita met ’n gevolg gekom:
een só welsprekend het ek nog nooit gesien
en het niemand anders van gehoor nie.

Hy het aan die wêreld van gode en mense
verskyn soos hy werklik is:
die Heldersiende
wat al die donkerte verdryf
en—enkel—vreugde vind.

Na hierdie Boeddha onverbonde onbedrieglik
kom ek met ’n vraag
namens die menigte wat hier in gevangenskap verkeer:

Watter gevare is daar vir die monnik wat in sy afkeer
’n leë eensaam blyplek opsoek
(allerhande slaapplekke:
die voet van ’n boom, ’n begraafplaas, ’n berggrot)—
gevare waarvoor daardie monnik in sy stil verblyf
nie moet bewe nie?

Hoeveel risiko’s is daar in die wêre1d
vir een wat op weg is na die sterflose dimensie—
risiko’s wat die monnik in sy eenkant-blyplek
moet oorwin?

Hoe moet die vasbeslote monnik praat,
wat moet hy doen,
wat moet sy reël en rite wees?

Watter oefening moet hy onderneem
om éénding-gerig met oorleg en aandag
sy eie skuim uit te suiwer
soos ’n smid dié van silwer?’

Die Deurlugtige:

‘O Sariputta, kom ek vertel jou van geluk—
ek
(die een wat weet hoe waarheid werklik is)
vir jou
(wat in jou walg en in jou smag na heil
in ’n verlate sit- en lêplek skuil):

aandagtig
binne grense
sal die wyse monnik leef, sonder vrees vir die vyf gevare
van vlieë, muskiete, slange, vierpotiges, en aanranding deur mense;

ook vir die aanhangers van ’n ander leer is hy nie bang nie
selfs al sien hy groot gevaar in hulle skuil.
Ja, ook ander probleme sal hy wat die goeie soek, oorwin:

al word hy op baie maniere deur siekte en honger geraak
sal hy koue en hitte verduur,
huisloos bly,
hom inspan.

Hy sal nie steel nie;
hy sal nie lieg nie;
hy sal alle wesens (wat kan beweeg of nie) vriendelik aanraak;
hy sal elke steurnis in sy gees ontdek
en uitdryf in die wete dat dit tot die duisternis behoort;

hy sal nie in die mag van woede en hoogmoed val nie—
hy sal hulle ontwortel en stewig staan
en oor sy hou en hou-nie-van-nie seëvier;

hy sal wysheid volg en in skoonheid vreugde vind;
hy sal in sy eenkant bly die risiko’s oorwin—
oor misnoeë en sy vier klag-gedagtes triomfeer

(“wat sal ek eet,
waar sal ek eet.
ek het sleg geslaap,
waar sal ek vannag slaap”—
huisloos sal die leerlingswerwer hierdie jammer-denke tug);

hy sal op die regte tyd sy kos en klere neem
wetend dat matigheid hier voldaanheid dien;
hy sal in die dorp behoedsaam en omsigtig leef;
hy sal nie ru praat nie, al word hy ook getart;

hy sal aan meditasie toegewy en baie waaksaam wees
met oë neergeslaan en voete stil;
hy sal gelykmatigheid stil van gees beoefen;
hy sal die neiging tot twyfel afsny en ook selfverwyt;

hy sal bly wees oor woorde van vermaning;
hy sal die droogte van sy gees teenoor ander wat die edel-lewe mee-leef, breek;
hy sal ’n gepaste woord op ’n geskikte tyd sê;
hy sal geen aandag gee aan skinderpraatjies nie;

hy sal verder aandagtig oefen om die vyf vuilhede in die wêreld
(die smag na vorme, klanke, smake, reuke en tastinge) te beteuel
en om aandagtig en met goed-verloste gees
die drang na dié ervarings op te ruim;

hy sal enkel-gerig die waarheid oordink
en op die regte tyd die duisternis verbreek’

sê die Deurlugtige.