Sutta Nipāta 4.4

Gryp na niks op aarde nie

‘Ek sien die hoogste suiwer heil,
en suiwerheid kom van wat mens sien’—
iemand wat dit as hoogste mening huldig
val terug op die kennis ‘ek het suiwerheid gesien.’

Wat hierdie dogma duidelik maak
is dat as suiwerheid kom van wat jy sien
of as jy jou deur kennis van lyding kan verlos
dan word bestaansverkleefdes anders as deur die edel pad gereinig.

Suiwerheid kom nie van elders:
van wat jy sien of hoor of dink, van reëls of vroom geloftes nie;
maar, met deug en ondeug ewe min bevlek (so sê die edel mens)
en van sy eie ‘self’ gestroop, fabriseer hy niks meer hier nie—dit kom vandáár.

Wie agter verleiding aan beweeg
om een ding na die ander vas te hou en weer te los
breek van gebondenheid nie weg nie; hulle gryp en los gedurig
soos ’n aap wat van een tak aftuimel net om aan ’n ander een vas te klou.

As jy aan persepsies vas is
slinger jy oral rond—al het jy geloftes afgelê;
maar ’n wyse mens wat weet slinger nie oral rond nie
want so een ken uit die dieper insigte oorvloediglik die waarheid.

Hoe sou mens twyfel
aan iemand wat oop in die wêreld leef
maar van die ganse leër van gees-verskynsels los,
van alles gesien, gehoor, gedink—en, juis só, helder sien?

Sulkes hou hulle nie op
met die bou en bewonder van denkkonstruksies
en noem niks daarvan ‘eindeloos suiwer’ nie, maar sny
deur die knoop van bindende verknogtheid, gryp na niks op aarde nie.

Een wat deur die grense breek
en nie vashou aan wat hy ken en sien nie,
wat na hartstog net so min smag as na hartstogloosheid
en wat aan niks hier hang as hoogste nie—so een is werklik ’n brahmaan.