Sutta Nipāta 4.6

Die lewe is kort, ja

Die lewe is kort, ja: mens sterf binne honderd jaar
en selfs al sou jy langer leef, sterf jy tóg van ouderdom.

Mense treur oor troetelgoed, want besittings is verganklik;
neem die onvermydelikheid van sonder-wees waar—bly woningloos.

Met die dood verdwyn wat mens dink is ‘myne’;
my wyse leerling, sien dit in—en beur van besitlikheid weg.

As jy wakker is sien jy nie meer wat jy in ’n droom ontmoet het nie—
net so min sien jy ’n geliefde wat gesterf het en vergaan het.

Mense wat nog sig- en hoorbaar is se name word genoem;
maar net die naam se klank bly oor as so een heengegaan het.

Mense smag na kosbare dinge en wat hulle kry is jammerkla en jaloesie;
wyse mense gee goed weg—en sien vrede in hul swerwe.

Hulle sê dit pas ’n monnik om afgetrokke te swerf,
alleenheid op te soek en nie in die omgang te verskyn nie.

Volkome onafhanklik hou die wyse niks vir plesierig of onplesierig nie;
kla en jaloesie kleef aan hom so min as water aan ’n blaar.

Soos ’n waterdruppel nie aan ’n lotus kleef nie
kleef ’n wyse nie aan wat hy sien of hoor of dink nie.

Sy suiwerheid, weet ’n suiwer mens, kom nie op
uit wat hy sien of hoor of dink nie;
omdat hy daarvoor op nêrens elders hoop nie
is hy nóg uitbundig nóg teleurgesteld.