Sutta Nipāta 5.1

Proloog

’n Brahmaan in die mantras volleerd het na niksheid verlang en
uit sy pragtige Kosala-dorp na die Suide vertrek

om op die wal van Godhavari in die Assaka-land digby Alaka
te woon en van vrugte en optelkosse te leef.

’n Ryk dorp was naby die wal en uit die oorvloed vandaar
het hy ’n groot offer berei.

Hy het die offer gebring en was pas terug in sy hut

toe—met seer voete en gevlekte tande, stof-bedek en dors—
’n ander brahmaan by hom aankom
en vyfhonderd geldstukke vra.

Toe Bavari hom sien, nooi hy hom uit om te sit,
vra na gesondheid en welstand
en sê:

‘Alles aan my gegee, het ek weggegee;
verskoon my brahmaan, maar vyfhonderd het ek nie.’

‘As jy nie oorhandig wat ek vra nie
sal jou kop op die sewende dag in sewe stukke breek.’

So het die bedrieër sy verskriklike vloek uitgespreek.
By die aanhoor van hierdie woorde was Bavari diep ontsteld;

hy het van honger en dors weggekwyn
en hom aan die pyl van smart oorgegee
sodat sy gees uit meditasie selfs geen vreugde meer kon put nie.

Maar ’n vriendelike godin sien Bavari verskrik en ellendig,
gaan na hom toe en sê:

‘Die skelm soek net geld;
van die kop en die oopmaak van die kop
weet hy niks.’

‘Edel gees, ek vra u: as u weet, vertel my dan
van die kop en die oopmaak van die kop;
laat ons hoor wat u sê.’

‘Selfs ek weet nie en het geen kennis daarvan nie;
die enigstes wat hier insig het, is die Oorwinnaars.’

‘Godin, vertel my dan
wie in hierdie wêreldomtrek weet
van die kop en die oopmaak van die kop.’

‘’n Afstammeling van koning Okkaka
lid van die Sakya-stam
wêreldgids
ligbrenger
het uit die stad Kapilavatthu voortgekom:

hy, o brahmaan, is volkome verlig,
het tot anderkant die verste grens van alle dinge deurgedring,
het die dieper kennisse en kragte almal behaal,
het in alle verskynsels insig,
het die beëindiging van alle verskynsels bereik,
is verlos deur die opbreek van die bestaansfondament,

is ’n Boeddha en ’n Deurlugtige—
hy, die een met insig, gee onderrig in die wêreld.
Gaan na hom toe en vra hom,
en hy sal aan jou verduidelik.’

By die aanhoor van ‘volkome verlig’ was Bavari jubelend bly;
sy smart het verdwyn en groot blydskap het hom aangegryp

en uitbundig juigend het hy die godin gevra:
‘In watter gehug, dorp of land woon die wêreldgids
dat ons eer aan hom kan gaan bewys—
die Volkome Verligte,
die hoogste mens?’

‘Die Oorwinnaar
oorvloedig wys en mateloos intelligent
is tuis in Savatthi van die Kosala’s;
die seun van die Sakyas
sonder las en smet
is magtig onder mense—
en hy weet van die oopmaak van die kop.’

Toe rig hy hom tot sy leerlinge, brahmane wat die mantras ken:
‘Kom, jong brahmane, ek wil julle iets vertel;
luister na my woorde:

iemand wat selde in die wêreld verskyn
is nou gebore— ’n beroemde Volkome Verligte.
Gaan gou na Savatthi
en aanskou die hoogste mens.’

‘Maar as ons hom nou sien, hoe sal ons weet dat hy “die Boeddha” is?
Vertel hoe ons hom kan herken, brahmaan, want ons weet dit nie.’

‘Kennis van ’n groot mens se merke kom van die mantras af:
twee en dertig is volledig een vir een geopenbaar.

Die mens op wie se liggaam hierdie merke voorkom
het twee lewensweë voor hom oop—daar is geen derde nie:

vestig hy hom as huisbewoner
sal hy die breë aarde onderwerp
sonder stok en swaard
en met die waarheid heers;

maar gaan hy die wildernis in
om as huislose te swerf
dan rol hy die wêreldsluier weg—
die Volverligte, onoortreflik heilig.

Vra hom—maar net in jul gedagtes!—oor my uit:
oor my geboorte, stam en liggaamsmerke,
oor my liedere en my ander dissipels—
en sommer ook oor die kop en die oopmaak van die kop.

As hy ’n Boeddha is en dwarsdeur obstruksies kan kyk
sal hy hardop antwoord gee op vrae wat julle in gedagte stel.’

Wat Bavari gesê het is aangehoor deur sestien brahmaanse dissipels
—Ajita, Tissametteya, Punnaka en Mettagu,
Dhotaka, Upasiva, Nanda en Hemaka,
Todeyya, Kappa en Jatukani die wyse,
Bhadravudha, Udaya en Posala die brahmaan,
Mogharaja die intelligente en Pingiya die groot siener—

elkeen met sy eie groep volgelinge en beroemd oor gans die wêreld;
almal verstandige denkers wat in meditasie geluk gevind het
en deurtrek was met die geur van versamelde deug.

Hulle het Bavari gegroet, eerbiedig regs om hom beweeg
en almal met gevlegte hare en gewade van vel noordwaarts vertrek:

eers na Alaka se Patitthanam, vandaar na Mahissati,
Ujjeni, Gonaddha, Vedisa en Vanassa,

vandaar na Kosambi, Saketa en Savatthi die allerbeste stad,
Setavya, Kapilavatthu en die stad Kusinara,

vandaar na Pava, Bhoganagara, Vesali die stad van Magadha,
en die lieflik-grasieuse grafmonument van Pasanaka.

Haastig—soos ’n dorstige na koel water,
’n handelaar na groot wins
en ’n hitte-verskroeide na koelte verlang—
het hulle die berg bestyg

waar die Deurlugtige, omring deur die vergadering van monnike,
juis toe besig was om die dhamma aan die monnike te leer,
brullend soos ’n leeu in die veld.

Ajita kyk na die Volverligte—
en hy lyk soos die son as dit helder hang voor sy strale begin brand,
soos die maan as dit volgemaak glans op die vyftiende dag van die maand;

en toe hy sy liggaam sien met al die wesenskenmerke dáár
het hy opgewonde eenkant gaan staan en in sy gedagte woordeloos gevra:

‘Praat van die brahmaan se leeftyd,
praat van sy stam en die kenmerke van sy lyf,
praat van sy bemeestering van mantras en van die getal wat hy doseer.’

‘Sy leeftyd is honderd en twintig jaar,
sy stam is Bavari
en sy lyf het drie kenmerke:
hy het die drie Vedas volkome bemeester,

hy doseer vyf honderd mantras
uit die Attribute, die Oorlewering, die Verklarings en die Rites
en in sy eie leer het hy volmaaktheid bereik.’

‘Vernietiger van begeerte,
beskryf die eienskappe van Bavari se lyf
sodat ons glad nie meer twyfel nie.’

‘Jong man, weet dit:
hy bedek sy mond met sy tong,
tussen sy wenkbroue groei hare
en sy penis is met voorhuid-skede bedek.’

Toe die mense geen vraag hoor nie maar wel hoe antwoorde gegee word
het hulle almal opgetoë met gevoude hande gewonder:

‘Watter god—miskien Brahma of Inda Sujampati—
het daardie vrae in sy gedagte gevra
en met wie was die Meester in gesprek?’

‘Bavari het ook gevra oor die kop en die oopmaak van die kop.
Verduidelik dit, o Deurlugtige,
verdryf ons twyfel, o siener.’

‘Weet dat die kop onbegrip is
en dat begrip
met vertroue, aandag, konsentrasie, vasberadenheid en energie verenig
die kop oopmaak.’

In groot verwondering het die jong man bedaar;
hy het die vel oor een skouer gegooi
en met sy kop by die voete van die Meester gekniel:

‘Eerbiedwaardige Heer, Heldersiende,
aan u voete vol blydskap en geluk
betoon die brahmaan Bavari met sy dissipels eerbied.’

‘Laat Bavari die brahmaan met sy dissipels gelukkig wees;
wees ook jy gelukkig—en leef lank, jong man.

Maar Bavari en jyself—ja, julle almal—het nog baie onsekerheid;
vra wat jy ook al op die hart mag hê—
jy het nou geleentheid.’

Met die verlof van die Volverligte
het Ajita gaan sit met uitgestrekte hande
en die eerste vraag aan Tathagata gestel: