Sutta Nipāta 5.19

’n Swaan by ’n groot meer (2)

‘Ek sal die hoogste doel besing’ (sê Pingiya),
‘die smetlose mens met groot verstand,
die verligte mens sonder begeerte,
die beskermer
lê dit uit soos hy dit gesien het;
waarom sou hy ’n leuen vertel?

Kom, die helder boodskap van die mens
ontslae van vuilheid en dwaasheid
en trotsheid en geveinsdheid
sal ek prys.

Ek, brahmaan, dien hom wat met reg Boeddha genoem word:
die alsiende
wat die duisternis verdryf,
die bereiker van die wêreld se grens
wat anderkant alle bestane uitbeweeg het,
die smettelose
wat van alle leed ontslae is.

Soos ’n voël struikveld verlaat
om in ’n woud vol vrugte te woon
het ek mense van klein visie verlaat;
ek het aangekom, soos ’n swaan by ’n groot meer.

Vroeër—vóór Gotama se onderrig—het hulle my geleer:
“Só was dit, en só sa1 dit wees.”
Maar dit was alles net hoorsê;
alles het my twyfel verdiep.

Alleen sit Gotama,
die verdrywer van duisternis,
die edel skepper van lig
met die groot wysheid en groot verstand

wat my ’n waarheid geleer het
wat direk oombliklik geld,
wat begeerte tot niet maak en heilsaam is,
en waarvan die ewebeeld nêrens bestaan nie.’

‘Pingiya, kan jy vir selfs ’n oomblik weg wees van Gotama,
die verdrywer van duisternis,
die edel skepper van lig
met die groot wysheid en groot verstand

wat jou ’n waarheid geleer het
wat direk oombliklik geld,
wat begeerte tot niet maak en heilsaam is,
en waarvan die ewebeeld nêrens bestaan nie?’

‘Brahmaan, selfs nie vir ’n oomblik kan ek weg wees van Gotama nie,
die verdrywer van duisternis,
die edel skepper van lig
met die groot wysheid en groot verstand

wat my ’n waarheid geleer het
wat direk oombliklik geld,
wat begeerte tot niet maak en heilsaam is,
en waarvan die ewebeeld nêrens bestaan nie.

Brahmaan, omdat ek hom dag en nag toegewyd sien
in my gees, asof met my oog,
en ek hom snags tot dagbreek toe vereer
is ek nooit, dink ek, van hom weg nie.

My vertroue en blydskap en gees en aandag
dwaal nie weg van Gotama se leer nie;
ek buig in elke rigting
waarheen hy met die groot wysheid gaan.

Omdat ek vervalle en tenger is
beweeg my lyf nie vinnig agterna nie.
maar ek reis immer in vasberade krag
want my gees, brahmaan, is aan hom gebind.

Ek het spartelend in modderslyk gelê
en van vashouplek tot vashouplek gedryf—
en toe sien ek die vol-verligte
wat smetloos skoon
die vloed se anderkant bereik het.’

‘Soos Vakkali en Bhadravudha en Alavi-Gotama
verlos is deur vertroue
sal ook jy dat vertroue jou verlos;
jy, Pingiya, sal uitgaan anderkant die doodsdomein.’

‘My genoeë is nog groter
noudat ek die woord van die wyse gehoor het.
Die vrugbaar-wyse vol-verligte
verwyder die sluier

want hy ken die hoogste godedom
en weet alles wat ver en naby is;
die leraar maak ’n einde aan die vrae
van hulle wat hul twyfel toegee.

Ek is op weg
—al my twyfel gedaan—
na wat stewig is en nooit vergaan
en waarvan geen gelykenis bestaan;
ag my daaraan toegewy.’