Sutta Nipāta 5.5

Die vrae van Mettagu

‘Deurlugtige Heer, u het kennis bereik
en is ontwikkeld (dink ek),
en ek vra u om my te sê
vanwaar in die wêreld
verdriet dan kom in veelvormige veelheid?’

‘Oor verdriet se herkoms, Mettagu, vra jy my uit;
ek sal dit uitlê soos ek dit ken:
in die wêreld groei verdriet in veelvormige veelheid
uit die grond van lewensverknogtheid;

ontwikkel jy lewensverknogtheid
is jy onkundig en dwaas
en ervaar jy verdriet oor en oor;
die mens wat weet
ontwikkel geen verknogtheid aan lewe nie
—gedagtig aan verdriet se ontstaan en herkoms.’

‘Wat ons u gevra het het u ons verkondig.
Nog ’n vraag vra ons u—beantwoord dit asseblief:
hoe steek wyse mense die stroom
van gebore word en oud word en droefheid en jammer oor?
Goeie wyse, verhelder dit ook vir my,
want hierdie waarheid is aan u bekend.’

‘O Mettagu, ’n waarheid
wat in die lewe hier en nou meer as praat is
sal ek aan jou verkondig—
want wie daardie waarheid ken
en aandagtig leef
sal verknogtheid aan die wêreld oorskry.’

‘En ek sal vreugde vind, groot siener, in daardie hoogste waarheid—
wie dit ken en aandagtig leef sal verknogtheid aan die wêreld oorskry.’

‘O Mettagu, hou op
om die dinge bo, onder, rondom en in die middel
wat jy ken
genietend te bewoon,
en laat jou bewussyn
in bestaan nie bly staan nie;

leef as monnik
aandagtig waaksaam swerwend
en raak van jou skatte ontslae,
en jy sal in volle wete
hier ontslae wees
van gebore word en oud word en droefheid en jammer
—van verdriet.’

‘Ek vind vreugde in die taal van die groot siener Gotama.
O Deurlugtige, u het leef sonder bestaansverknogtheid goed verklaar
en u het verdriet waarlik kwytgeraak
want die waarheid is aan u bekend—

en dié wat u, o wyse, gereeld vermaan
raak stellig hul verdriet ook kwyt.
O held, ek het gekom om voor u neer te buig—
Deurlugtige, vermaan ook my gereeld.’

‘Weet dat ’n brahmaan
wat kennis bereik het
en niks het nie
en nie vas is aan geniet of aan wees nie—
dat hy hierdie vloed vir seker oorgesteek
en die anderkant gehaal het
sonder hardheid of onsekerheid;

dat die man wat weet
en kennis bereik het
en nie meer vashou aan bestaan ná bestaan nie—
dat hy anderkant gebore word en oud word uitgekom het
sonder die bewende smagting van begeerte;
dit verklaar ek.’