Sutta Nipāta 5.6

Die vrae van Dhotaka

‘O Deurlugtige, ek verlang na u woord en vra u, groot siener, om my te sê
of mens ná die aanhoor van u lering self nibbana kan bereik.’

‘Doen moeite, Dhotaka,
wees verstandig en aandagtig
en jy sal ná die aanhoor van my lering
self nibbana kan bereik.’

‘Ek sien in die wêreld van gode en mense ’n brahmaan wat rondgaan met niks.
Voor u buig ek neer, alsiende Sakya-man: verlos my van onsekerheid.’

‘Dhotaka, ek sal niemand
in die wêreld van onsekerheid verlos nie;
maar verstaan die goeie leer en jy sal self
deur hierdie vloed kan kom.’

‘Wees my genadig, o brahmaan, en onderrig my in die leer van afgeskeidenheid
dat ek dit begryp en vry hier soos die lug in vrede en onafhanklikheid kan leef.’

‘Vrede in die lewe hier en nou
wat meer as praat is sa1 ek duidelik maak;
wie daardie vrede ken en aandagtig leef sal anderkant
verknogtheid aan die wêreld kom.’

‘En ek sal vreugde vind, groot siener, in daardie hoogste vrede—
wie dit ken en aandagtig leef sal anderkant verknogtheid aan die wéreld kom.’

‘Dhotaka, besef dat die dinge
bo, onder, rondom en in die middel
wat jy ken, jou aan die wêreld bind—
begeer nie voortbestaan nie.’